From Wikipedia, the free encyclopedia
2Cellos (gestileerd 2CELLOS) is 'n Kroatiese[2] tjelloduo, wat bestaan uit die klassiek-opgeleide Luka Šulić en Stjepan Hauser. Sony Masterworks het sedert 2011 reeds vier van hulle albums vrygestel. Hulle is veral bekend vir hulle Instrumentale verwerkings van bekende pop- en rockliedjies sowel as klassieke musiek en filmmusiek.[3] Die duo tree internasionaal op en is gereeld te sien op verskeie Amerikaanse TV-programme, soos Glee en The Bachelor.[4]
2Cellos | |
---|---|
2Cellos in Glendale, Kalifornië (2011) | |
Agtergrondinligting | |
Oorsprong | Zagreb, Croatia[1] |
Genres | Cello rock, klassieke musiek, kamermusiek, instrumentele rock |
Jare aktief | 2011 tot hede |
Etikette | Sony Masterworks |
Webwerf | 2cellos.com |
Lede | Luka Šulić Stjepan Hauser |
Hauser, gebore in Pula, Kroasië, en Šulić, gebore in Maribor, Slowenië, het mekaar as tieners by 'n meestersklas in Kroasië ontmoet. Šulić se ouers – sy pa 'n Kroasiër en sy ma 'n Sloween – is albei klassiek opgeleide musici. Šulić, 'n jaar jonger as Hauser, het sy opleiding aan die Akademie van Musiek in Zagreb begin en later in Wene voortgesit. Daarna het hy aan die Londense Royal Academy of Music studeer. Hauser het sy opleiding aan die Royal Northern College of Music in Manchester ontvang, nadat hy sy studie aan Trinity Laban in Londen voltooi het.[5]
Die duo het byna oornag beroemd geword met hulle treffervideo van "Smooth Criminal" op YouTube,[6] wat in die eerste twee weke meer as drie miljoen keer gekyk is en meer as agtien miljoen keer sedert Mei 2016.[7] Die musiekvideo is gebore uit die tjelliste se finansiële probleme, ten spyte van hul musikale sukses in die Verenigde Koninkryk. Die duo het in Pula byeengekom, waar een van Hauser se vriende, 'n direkteur, voorgestel het dat hulle die popmusiekmark moet probeer met 'n moderne tjelloweergawe van Jackson se "Smooth Criminal." In die video, wat oorspronklik op 20 Januarie 2011 op YouTube gelaai is,[8] sit en speel Šulić en Hauser alleen in 'n groot wit kamer. Voordat die twee 'n duo gevorm het, is hulle soms as teenstanders beskou, wat in musiekwedstryde teen mekaar meeding.
2Cellos is tans onder kontrak by die platemaatskappy Sony Meesterwerke, waar hulle in Mei 2010 hulle eerste album opgeneem het,[9] wat in Kroasië onder die etiket Menart Records [10] op 19 Julie 2011 met die titel "2Cellos" vrygestel is.[11] Dit sluit liedjies van U2, Guns N'Roses, Nine Inch Nails, Angel, Coldplay, Nirvana, Muse, en Kings of Leon in. Volgens die duo het hulle liedjies gekies wat aangepas kan word vir slegs twee tjello's.[12] Terwyl hulle op die vrystelling van die album gewag het, het hulle 'n enkelsnit weergawe van Guns N' Roses se "Welcome to the Jungle" vrygestel.[13] In baie van die opnames is hulle deur die tromspeler, Dušan Kranjc, bygestaan.
Nadat Elton John die "Smooth Criminal" video gesien het, het hy Šulić persoonlik gebel en gevra of hulle saam met hom sal optree op sy 2011-dertig-stad somertoer, wat op 8 Junie in Cardiff, Wallis sou begin.[14] In dieselfde jaar, op 25 April, verskyn die duo ook op The Ellen DeGeneres Show [15][16] en tree by die iTunes Festival in Londen op.
In die derde seisoen van die tv-reeks Glee speel die duo op 31 Januarie 2012 , in 'n episode getiteld "Michael", 'n verwerking van "Smooth Criminal". Dit was die eerste keer dat die reeks op instrumentale musikante gefokus het.Die toneel vir "Smooth Criminal" was soortgelyk aan 2Cellos se oorspronklike musiekvideo vir die liedjie.[17] Op 4 Junie 2012 het 2Cellos saam met Elton John by die koningin van die Verenigde Koninkryk se Diamant-Jubileum-Konsert in Buckingham Palace opgetree. Op 12 Junie 2012 lewer hulle 'n uitvoering in 'n volgepakte Arena Zagreb.
Alhoewel hulle op die verwerking van hoofsaaklik rock-liedjies konsentreer, sê Šulić en Hauser dat hulle nog steeds saam met simfonieorkeste optree en nie die speel van klassieke musiek sal laat vaar nie. Hulle sou graag eendag op toer wil gaan met beide 'n klassieke en kontemporêre orkes. Hul tweede studio album, getiteld In2ition, wat aan die begin van 2013 vrygestel is, bevat 'n verskeidenheid klassieke snitte met 'n paar verrassende vokale en instrumentale duetvennote, insluitende Elton John, Lang Lang, Naya Rivera, Steve Vai, Sky Ferreira en Zucchero. Die album is vervaardig deur Bob Ezrin.
Ander snitte sluit in verwerkings van AC/DC se "Highway to Hell" met Vai, Coldplay se "Clocks" met Lang Lang, Muse se "Supermassive Black Hole" met Rivera, 'n Italiaanse weergawe van "The Book of Love" deur The Magnetic Fields getiteld "Il Libro Dell'Amore" met Zucchero, Karl Jenkins se "Benedictus", en "Oh Well" met Sir Elton.[18]
In Julie 2013 verfilm die duo 'n reklameflits vir die Japannese selfoonmaatskappy, Docomo.[19] Hulle tweede album, In2ition, debutteer in Augustus 2013 as nommer 1 op die Japannese Albums Chart.[20] As deel van hulle wêreldtoer saam met Elton John, wat konserte in Noord-Amerika, Europa en Asië ingesluit het, tree 2Cellos in Desember 2013 twee dae na mekaar op in Madison Square Garden.[21] In Maart 2014, onderneem hulle 'n solo toer in Japan.[22]
In 2015 stel 2Cellos hulle derde album, Celloverse vry.[23] Die album bevat 'n verskeidenheid verwerkings, van onder andere AC/DC se Thunderstruck, Avicii se Wake Me Up, Michael Jackson se "They Don't Care About Us", Hans Zimmer se Mombasa (uit Inception), en 'n oorspronklike werk getiteld Celloverse.
2Cellos maak aktief van YouTube gebruik om hulle aanhangers te bereik. Benewens hulle musiekvideos is daar ook opnames van hulle konserte, waaronder hulle optredes in die Arena Zagreb (2012), Arena Pula (2013), EXIT Festival (2014), en hul vyfde verjaardagkonsert in die Arena di Verona (2016). In Februarie 2014 publiseer hulle hul vertolking van AC/DC se "Thunderstruck" op YouTube. Die video beeld die duo uit as musici wat in gesofistikeerde klassieke styl voor 'n Barok-gehoor optree en dan skielik na 'n stormagtige pop-styl oorslaan. Die video het in die eerste twee weke op YouTube 10 miljoen kykers gelok,[24] en teen 1 Januarie 2017 was die kykersgetal reeds meer as 72 miljoen.
Soos Šulić aan The Sydney Morning Herald gesê het, "ons hou net soveel van AC/DC as van Bach," waarop Hauser bygevoeg het, "beide [AC/DC en Bach] is eenvoudig en oortuigend in wat hulle doen." [25] In Januarie 2015 is hulle derde ateljeealbum, Celloverse, waarvan hulle medevervaardigers was, uitgereik.
In 2017 stel Sulic en Hauser hul album Score vry. Hierin tree hulle saam met die Londense Simfonie-Orkes op in 'n wye verskeidenheid van televisie- en filmmusiek. Daarmee saam stel hulle hul video, Game of Thrones Medley, op YouTube bekend, wat binne twee dae meer as 1 miljoen kykers bereik.
Jaar | Ontvanger | Toekenning | Uitslag | Verw. |
---|---|---|---|---|
2014 | In2ition | Instrumentale Album van die Jaar | Gewen | [29] |
"Kagemusha" | Liedjie van die Jaar deur die aflaai daarvan | Gewen |
Jaar | Ontvanger | Toekenning | Uitslag | Verw. |
---|---|---|---|---|
2015 | 2Cellos | Beste Adria Optrede | Benoem | [30] |
Jaar | Ontvanger | Toekenning | Uitslag | Verw. |
---|---|---|---|---|
2014 | 2Cellos | Musikante van die Jaar | Gewen | [31] |
Seamless Wikipedia browsing. On steroids.
Every time you click a link to Wikipedia, Wiktionary or Wikiquote in your browser's search results, it will show the modern Wikiwand interface.
Wikiwand extension is a five stars, simple, with minimum permission required to keep your browsing private, safe and transparent.