From Wikipedia, the free encyclopedia
Die zakaat (Arabies: زكاة, zakāh, [zaˈkaːh]; letterlik: "dit wat reinig";[1] ook zakaat al-mal, زكاة المال, [zaˈkaːt alˈmaːl], "zakaat op rykdom",[2] is 'n vorm van aalmoese wat in Islam as 'n soort godsdienstige verpligting of belasting voorgeskryf word,[3][4] wat volgens die Koraanse rangskikking die gebed (salaah) in belangrikheid opvolg.[5]
Die zakaat is die derde van die Vyf Pilare van die Islam en vorm 'n godsdienstige verpligting vir alle Moslems wat aan die nodige kriteria van rykdom voldoen.[6] Dit is 'n verpligte liefdadigheidsbydrae, wat dikwels as 'n belasting beskou word.[7][8] Die betaling van en die geskille oor die zakaat het 'n belangrike rol in die geskiedenis van Islam gespeel, veral tydens die Ridda-oorloë.[9][10]
Die zakaat is gebaseer op iemand se inkomste en die waarde van al sy besittings.[11][12] Dit is gewoonlik 2,5% (of 1/40)[13] van 'n Moslem se totale besparing en welvaart bo 'n minimumbedrag wat nisab genoem word, maar Islamitiese geleerdes verskil oor hoeveel nisab is en ander aspekte van zakaat.[14] Volgens die Islamitiese leerstelling moet die versamelde bedrag aan die armes, behoeftiges, zakaat-insamelaars en ondersteuners van Islam betaal word om hulle van slawerny te bevry, vir skuldverligting, in "die saak van Allah" en om die gestrande reisiger te baat.
Vandag is die zakaat-bydrae in die meeste lande met 'n Moslem-meerderheid vrywillig, terwyl dit in 'n handvol lande (Jemen, Libië, Maleisië, Pakistan, Saoedi-Arabië, Soedan), deur die staat bestuur en ingesamel word.[15][16][17][18] Daar is regeringsbeheerde vrywillige zakaat-bydraeprogramme in Bahrein, Bangladesj, Egipte, Indonesië, Iran, Jordanië, Koeweit, Libanon en die Verenigde Arabiese Emirate.[19]
Anders as Soenniete beskou Sjiiete die zakaat tradisioneel as 'n private en vrywillige besluit en hulle gee die zakaat eerder aan imam-geborgde as staatsgeborgde versamelaars.[20][21][22]
Naas die term "zakaat" word soms ook die term "sadaqa" gebruik,[23] maar dít verwys veral na 'n vrywillige offer, in teenstelling met die verpligte zakaat. Volgens Moslemse kommentators mag die wettige belasting net vir Moslems aangewend word, terwyl 'n vrywillige aalmoese ook vir nie-Moslems gegee kan word.[24]
Seamless Wikipedia browsing. On steroids.
Every time you click a link to Wikipedia, Wiktionary or Wikiquote in your browser's search results, it will show the modern Wikiwand interface.
Wikiwand extension is a five stars, simple, with minimum permission required to keep your browsing private, safe and transparent.