Windsor-kasteel (Engels: Windsor Castle) in Berkshire, Engeland, is die grootste bewoonde kasteel in die wêreld. Die kasteel dateer uit die tyd van William die Veroweraar en word reeds amper 1 000 jaar bewoon.[1] Dit beslaan ’n vloeroppervlak van sowat 44 965 vierkante meter.[2]

Thumb
Windsor-kasteel soos vanaf die "Long Walk" gesien.
Thumb
Windsor-kasteel vanuit die lug.

Saam met Buckingham-paleis in Londen en Holyrood-paleis in Edinburg is dit een van die hoofwonings van die Britse monarg. Koningin Elizabeth II bring baie naweke in die kasteel deur en gebruik dit vir private en staatsgeleenthede.

Die meeste van die monarge van Engeland, later Groot-Brittanje en nog later die Britse Statebondsryke het ’n direkte invloed gehad op die bou en ontwikkeling van die kasteel, wat hul fort, woning, amptelike paleis en soms selfs tronk was.

Uitleg

Deur sy 900 jaar lange bestaan is die ontwerp van Windsor-kasteel aangepas en verander volgens die smaak, vereistes en finansies van opeenvolgende monarge. Die hooftrekke het egter min of meer dieselfde gebly en die plan hieronder is ’n nuttige gids. William die Veroweraar het die eerste houtkasteel tussen 1070 en 1086 gebou. Dit is later met stene herbou en het oor die jare al hoe belangriker geword. Koning Hendrik II het die Ronde Toring en die oorspronklike buitemuur laat bou. Tydens die bewind van koning George IV tussen 1820–1830 het die kasteel sy grootste enkele transformasie ondergaan. George, wat bekend was vir sy swierige aanbouings by Carlton House en die Royal Pavilion, het die parlement oorreed om £300 000 aan hom toe te staan vir restourasiewerk. Die argitek Jeffry Wyatville het die werk in 1824 begin. Koning George is in 1830 dood voor die restourasie voltooi is, maar dit was feitlik klaar teen die tyd dat Wyatville in 1840 dood is.

Thumb
Plan van Windsor-kasteel.

Sleutel tot die plan regs

  • A: Die Ronde Toring
  • B: Die boonste binnehof, of Die Plein
  • C: Die staatsale
  • D: Private woondeel (kyk uit oor die oostelike terras)
  • E: Suidelike vleuel (kyk uit oor die Lang Wandellaan)
  • F: Die onderste binnehof
  • G: Sint George-kapel
  • H: Die Hoefyster
  • K: Koning Henry VIII-hek (hoofingang)
  • L: Die Lang Wandellaan
  • M: Die Normandiese Hek
  • N: Noordelike Terras
  • O: Edward III-toring
  • T: Die Aandkloktoring

Die besonder sigbare landmerk van die kasteel, die Ronde Toring ("A"), is eintlik allesbehalwe rond; die vorm daarvan word meegebring deur die oneweredige, maar skynbaar ronde, mensgemaakte heuwel waarop dit gebou is. Die toring skei die twee binnehowe van mekaar. Die laer binnehof (Lower Ward, "F") bevat Sint George-kapel ("G"), terwyl die boonste binnehof (Upper Ward, "B") die private woondeel ("D") en die meer formele staatsale ("C") huisves.

Park

Die onmiddellike omgewing sluit die parkgebied en twee plase in, asook baie huise waarin hoofsaaklik werknemers bly. Die landgoed Frogmore lê ook binne die parkgebied. Frogmore House en sy tuine is op sekere dae vir die publiek oop.

Verwysings

Eksterne skakels

Wikiwand in your browser!

Seamless Wikipedia browsing. On steroids.

Every time you click a link to Wikipedia, Wiktionary or Wikiquote in your browser's search results, it will show the modern Wikiwand interface.

Wikiwand extension is a five stars, simple, with minimum permission required to keep your browsing private, safe and transparent.