Duitse digter en lirikus van die Middeleeue From Wikipedia, the free encyclopedia
Walther von der Vogelweide (* omstreeks 1170, geboorteplek onbekend; † omstreeks 1230, moontlik in Würzburg) word as die voorste Duitssprekende lirikus van die Middeleeue beskou. Sy digkuns val in die Middelhoogduitse periode.
Historici het verskillende hipoteses oor Walther se geboorteplek ontwikkel. So is hy moontlik op 'n plaas met die naam Vogelweidhof in die Eisack-vallei naby Bozen (Bolzano), Suid-Tirol, gebore. Nogtans lyk Neder-Oostenryk 'n meer waarskynlike geboortestreek te wees. Walther is in 'n familie gebore wat by die sogenaamde laer diensadel gereken word. Hy het sy opleiding as digter in Oostenryk deur Reinmar die Oue (Reinmar der Alte) ontvang. Gedurende die regentskap van hertog Leopold V (1177−1194) en sy seun en opvolger Friedrich (1194−1198) het hy 'n bevoorregte posisie aan die Weense hof beklee. Hier het hy van sy mooiste natuur- en Minnesang-liedere gekomponeer en voorgedra wat deur hul lewendige uitdrukking van gevoelens, aantreklike onnoselheid en soms moedwillige guitigheid gekenmerk word.
Meer as 'n honderdtal tekste uit sy pen is oorgelewer. Die laaste lied, wat gedateer kan word, is die sogenaamde Elegie. Dit bevat 'n oproep gerig aan die ridderskap om deel te neem aan Friedrich II se kruistog van 1228/1229. Sodoende is die herfs van 1227 as ontstaantydperk bepaal. Navorsers neem aan dat hy kort daarna of omstreeks 1230 oorlede is aangesien geen lied oorgelewer is waarin die kruistog se suksesse besing word nie. Walther von der Vogelweide het sy laaste rusplek volgens oorlewering in die kruisgang van die Neumünster-kerk te Würzburg gevind.
Ondanks sy bekendheid kom die enigste historiese dokumente, waarin na Walther verwys word, uit die pen van sy digterkollega's. 'n Enkele uitsondering is die opstelling van reiskoste, soos oorgelewer deur die Passause biskop Wolfger von Erla vir 12 November 1203, in Zeiselmauer, 'n nedersetting tussen Tulln en Klosterneuburg in die huidige Oostenryk:
Walthero cantori de Vogelweide pro pellicio v solidos longos «Vir Walther, die sanger uit Vogelweide, 'n pelsmantel vir vyf sjieling (letterlik: lang solidi).» |
Aan geestelikes uit die biskop se geledere is in hierdie tyd van die jaar - vroeg in November - pelsmantels beskikbaar gestel wat teen dieselfde prys of iets minder aangekoop is. Hieruit blyk dat Walther dieselfde soort klere kon dra soos die biskop se leidende medewerkers («amptenare») en dus ook dieselfde sosiale status beklee het.
Seamless Wikipedia browsing. On steroids.
Every time you click a link to Wikipedia, Wiktionary or Wikiquote in your browser's search results, it will show the modern Wikiwand interface.
Wikiwand extension is a five stars, simple, with minimum permission required to keep your browsing private, safe and transparent.