From Wikipedia, the free encyclopedia
Die nasionale vlag van Noorweë (Bokmal: Norges flagg; Nynorsk: Det norske flagget) is op 13 Julie 1821 amptelik in gebruik geneem. Die vlag vertoon ’n donkerblou kruis met wit fraiings op ’n donkerrooi veld. Die vertikale arm van die kruis is in die rigting van die vlagpaal verskuif volgens die patroon van die ander Skandinawiese vlae.
Bynaam | (nn) Det norske flagget (no) Norges flagg |
---|---|
Gebruik | Burgerlike vlag en vaandel |
Verhouding | 8:11 |
Goedgekeur | 13 Julie 1821[1] |
Ontwerp | ’n Donkerblou Skandinawiese kruis met wit fraiings op ’n donkerrooi veld. Die vertikale arm van die kruis is in die rigting van die vlagpaal verskuif. |
Ontwerp deur | Fredrik Meltzer |
Gebruik | Staats- en Oorlogsvlag en Staats- en Vlootvaandel |
Verhouding | 16:27 |
Bynaam | Kongeflagget |
Verhouding | 8:11 |
Goedgekeur | 15 November 1905 |
Ontwerp | Die wapen van Noorweë in vaandelvorm wat ’n byl hou op ’n rooi veld. |
Ontwerp deur | Verskeie (Anders Thiset, Eilif Peterssen, kabinet van Noorweë) |
Die handelsvlag het ’n vlagverhouding van 16:22 en die staatsvlag ’n vlagverhouding van 16:27.
Die rooi kleur is PMS 200 en die blou kleur PMS 281 volgens die Pantone-kleurstelsel,[2] onderskeidelik #BA0C2F (rooi)[3] en #00205B (blou)[4] (en #FFFFFF (wit) in die RGB-stelsel.
Die vlagverhouding van die nasionale vlag is 16:22, sy kleurelemente het lengtes van 6:1:2:1:6 en 6:1:2:1:12. Die vlagverhouding van die staatsvlag is 16:27, of 6:1:2:1:6 vertikaal en 6:1:2:1:6:11 horisontaal.
Die Noorse vlagwet deur die Departement van Buitelandse Sake bepaal die kleure as donkerrooi en donkerblou (“høirødt” og “mørkeblåt”) en wit, sonder verwysing na ’n spesifieke kleurstelsel.[5]
Vlagvervaardigers gebruik gewoonlik die rooikleur 200 en die bloukleur 281 van die Pantone-kleurstelsel[6] (let op dat geen agtervoegsels in hierdie PMS-waardes gespesifiseer word nie, aangesien die bedekte C-weergawe normaalweg aanvaar word). Hierdie kleure van die Noorse vlag is ook gedefinieer op bladsy 79 van die publikasie Flags and anthems manual, London 2012 en is gebruik op die Olimpiese Somerspele 2012 in Londen.[7] Die Oslo Oorlogsvereniging bepaal die kleure ook as Pantone 200 en 281.[8] Die vlagvervaardiger Langkilde & Søn verwys selfs na Pantone 200 as “Noorse rooi” en Pantone 281 as “Noorse blou”.[9] Die Nordiese Raad spesifiseer ook die Pantone 200 en 281.[10]
Ander bronne het verskillende kleure vir die rooi en die blou gespesifiseer met betrekking tot die Pantone-kleurstelsel (PMS). In ’n dokument op die Noorse regering se webblaaie word die rooikleur bepaal as “Pantone 032 U” en die bloukleur as “Pantone 281 U”.[11] Noorweegse vlagvervaardigers beskou egter hierdie rooi kleur as verkeerd en het gekla dat die Noorweegse staat propageer wat hulle as verkeerde inligting beskou. Daar is byvoorbeeld geargumenteer dat pantone-agtervoegsels (soos C en U) slegs relevant is vir papierdruk en dus nie gebruik moet word om vlagkleure te spesifiseer nie.[12] Noorweegse owerhede het sedertdien verduidelik dat die kleure slegs ’n interne aanbeveling was spesifiek vir sifdrukkuns en nie ’n wetlike definisie nie, en het die aanbeveling intussen teruggetrek.[12] Die Nordiese Vlagvereniging definieer tans die rooi kleur as PMS 186 en die blou kleur as PMS 287.[13] Die Nordiese Raad het voorheen in sy bron ’n soortgelyke kleurbeskrywing gegee, maar hulle bepaal die rooi kleur intussen as “Pantone 186 C” (let op die C-agtervoegsel), terwyl blou ooreenstem met die bron (“Pantone 287”).[14] In 2010 het dieselfde webwerf die blou kleur egter as “Pantone 301” gedefinieer.[15]
Op 25 April 2018 het die Noorse minister van buitelandse sake aanbeveel dat Noorse vlagvervaardigers inisiatief neem vir ’n tegniese standaard om te bepaal watter kleure vir die vlag van Noorweë gebruik word,[16] soortgelyk aan wat geld in Denemarke.[17] Daar word beklemtoon dat die kleur van die finale produk belangrik is, en dat dit daartoe kan lei dat die gids verskillende kleurkodes vir materiaal-, papier- en webgebruik beskryf.
As gevolg van die baie uiteenlopende metodes waarop kleure op fisiese vlae weergegee word, teenoor dié op digitale skerms (webkleure) is daar natuurlik geen presiese RGB-ekwivalent vir Pantone-kleure nie. ’n Goeie benadering kan egter bereik word deur die amptelike vertaling na webkleure in die Pantone-formulegids te volg. Die faktiese standaard wat deur Noorse vlagvervaardigers gebruik word is PMS 200 en 281, wat die ooreenstemmende webkleure volgens die amptelike Pantone-bypassende stelsel #BA0C2F vir PMS 200 (donkerrooi)[18] en #00205B vir PMS 281 (donkerblou) is.[19]
Die kleurskema word hieronder gelys:
In die antieke tydperk en die Middeleeue was daar nog nie so iets soos nasionale vlae nie. Daarenteen het heersers en ander leiers wél oor hul eie vlae beskik; die krygsvolk het hom gewoonlik om die koninklike vlag geskaar. Dit is moeilik om te bepaal watter vlag as eerste in Noorweë gebruik is. Volgens historiese oorlewerings het Sint Olaf (Olaf II Haraldsson) in die slag teen Nesje ’n wit kenteken met ’n slang gebruik.
Voor hierdie tydperk was kentekens met ’n raaf en ’n draak gebruiklik. Magnus die Goeie het oor dieselfde kenteken soos Sint Olaf beskik, terwyl Harald Hardråde ’n raaf gebruik het. Dié vlag is deur verskeie Wiking-hoofmanne en ander Skandinawiese heersers in die 9de, 10de en 11de eeue gebruik. Koning Inge I se simbool was ’n rooi leeu op ’n goue agtergrond, terwyl Sverre ’n arend in goud en rooi gebruik het. Erik Magnusson het vanaf 1280 ’n goue leeu met kroon en byl op ’n rooi agtergrond as sy wapen gevoer. Hierdie kenteken het ook as wapen gedien en ten opsigte van sy ontwerp en motief met die huidige Noorse koningsvlag ooreengekom. Dit is waarskynlik deur latere Noorse monarge oorgeneem en het geleidelik ook as skeeps- en vestingsvlag gedien. Die oudste betroubare afbeelding is hertogin Ingebjørg se seël uit die jaar 1318.
Teen 1500 het skepe die vlag van hul tuisland begin hys om hul nasionaliteit te wys. ’n Rooi vlag met die goue leeu en silwer hellebaard is in ’n Nederlandse vlagboek van 1669 en 1670 as die Noorse vlag uitgebeeld.[20]
Die leeuvlag het onder meer in 1698 nog steeds oor die vesting Akershus gewaai. Die Noorse leeus is in 1641 op die vlae van alle Noorse regimente geplaas. Dit is daarnaas ook op skepe en in ander vestings gebruik, maar uiteindelik gedurende die 17de en 18de eeu geleidelik uitgefaseer. Reeds in die 16de eeu was dit op see internasionaal gebruiklik om die land van herkoms met ’n nasionale vlag aan te dui, tog is die bevel om die Deense Danebrog as enigste wettige handelsvlag op Noorse skepe te hys nie voor die jaar 1748 gegee nie.
Vanweë die politieke unie met Denemarke is die Deense vlag vanaf die 17de eeu ook in Noorweë gehys. In 1814 het Noorweë as selfregerende staat die leeu van die rykswapen in die Deense vlag se veld links bo gevoeg en dit tot in die jaar 1821 in die noordelike seegebiede gebruik. In 1815 is ’n gemeenskaplike Sweeds-Noorse staats- en oorlogsvlag vir albei ryksdele ingevoer – die Sweedse vlag met ’n wit kruis op ’n rooi agtergrond in die boonste veld digby die vlagpaal. Op 26 Oktober 1818 het ’n gemeenskaplike handelsvlag gevolg wat dieselfde motief vertoon het, maar reggesny is. Hierdie vlag is ook in verder af geleë seegebiede tot by die Spaanse Kaap Finisterre in die suide gebruik – veral as beskerming teen Noord-Afrikaanse Barbaryse seerowers wat ’n losgeld van Swede ontvang het.[21] Daarnaas kon Noorse skepe in internasionale waters ook onder die Sweedse vlag seil. Sodoende was in die periode tussen 1818 en 1821 tegelykertyd drie verskillende handelsvlae gebruiklik.
Die huidige vlag van Noorweë is in 1821 deur Fredrik Meltzer, ’n afgevaardigde in die Storting, ontwerp. As ’n verwysing na die vorige unie met Denemarke en die nuwe gemeenskaplike staat van Noorweë en Swede het Meltzer elemente uit die vlae van albei buurlande in sy ontwerp verenig – Denemarke se rooi en wit met Swede se blou kleur met ’n kruis in die middel volgens die patroon van ander Skandinawiese vlae. Die kombinasie van rooi, wit en blou het daarnaas ook by die tradisies van ’n aantal demokratiese lande aangesluit – die rewolusionêre Frankryk, die Verenigde State, die Verenigde Koninkryk en Nederland.
Die Storting het Meltzer se voorstel vir ’n nuwe vlag goedgekeur, tog het koning Karl Johan geweier om hierdie wettiglike besluit te bekragtig. Die monarg het die vlag op 13 Julie 1821 nogtans in ’n koninklike resolusie aanvaar. Volgens ’n bykomende koninklike resolusie van 17 Julie is die gebruik van die nuwe driekleurvlag tot die noordelike waters beperk. Die skepe van albei lande was nou verplig om in suidelike waters die gemeenskaplike handelsvlag van 1818 – die Sweedse vlag met ’n insetsel van Noorse kleure – te gebruik. Nadat die Noord-Afrikaanse Barbareske-state in 1830 deur Frankryk verower is, het Swede die betaling van losgelde aan die plaaslike seerowers gestaak. Noorweë het nou daarop begin aandring dat sy goedgekeurde nasionale vlag ook in suidelike waters gebruik sou kon word. Hierdie toestemming is in 1838 verleen. Aangesien die Noorse grondwet van 4 November 1814 die oorlogsvlag tot vlag van die unie verklaar het, is hierdie vlag vanaf 1815 deur albei lande gebruik.
Gedurende Karl-Johan se regeringstydperk het die Noorse misnoeë oor die vlagstelsel, wat niks meer as Swede se oorheersende rol in die unie weerspieël het, steeds toegeneem. Volgens ’n voorstel van ’n gemeenskaplike Noors-Sweedse komitee het koning Oscar I in 1844 ’n nuwe vlag ingevoer wat aan Noorse eise vir ’n gelyke status binne die unie voldoen het. Elkeen van die twee lande het nou sy eie handels- en oorlogsvlag gekry, met ’n gemeenskaplike kenteken aan die linkerkant bo. Hierdie kenmerk het as ’n simbool van die politieke unie die kleure van albei lande in gelyke dele vertoon.
Hierdie kenteken het in die volksmond van albei lande as die Sildesalaten of “Haringslaai” bekend gestaan aangesien sy ontwerp aan ’n kleurryke ontbytgereg van Swede en Noorweë herinner het. Die bynaam het aanvanklik in Swede opgekom waar mense beswaar gemaak het teen die verlies van die oorspronklike Sweedse vlag, terwyl die nuwe kenteken in Noorweë as ’n vervulling van eise vir ’n nasionale simbool verwelkom is.
Vlootskepe van albei lande het die kenteken ook as geus op hulle boeg gebruik. Daarnaas is dit as ’n gemeenskaplike vlag van albei ryke deur die unie se diplomatieke missies in die buiteland gehys. Hier het dit egter ’n langgestrekte vorm met ’n verhouding van 4:5 gehad, net soos die kenmerk in die Sweedse vlag, terwyl dit op die Noorse unievlag as ’n vierkant verskyn het.
Die Noorse unievlag het dieselfde donkerblou kleurskakering in sowel die kruis van die hoofvlag asook in die Sweedse gedeelte van die uniekenmerk getoon – daar was dus nooit meer as een blou kleurskakering in die unievlag nie. Dieselfde was van toepassing vir die Sweedse unievlag. Die Sweedse vlag se blouskakering was in die 19de eeu donkerder as vandag, alhoewel dit soms afwykings getoon het. Die Swede het altyd dieselfde kleurskakering in die Noorse gedeelte van die uniekenmerk gebruik, selfs al was dit ligter as die amptelike Noorse weergawe.
As gevolg van die groeiende weerstand teen die politieke unie het die uniekenmerk ongewild geraak, en die eis vir “’n suiwer vlag” is veral deur die sosiaal-liberale Venstre-party as ’n politieke vaandel rondgeswaai. Die Storting het die gebruik van ’n suiwer Noorse vlag in 1892, 1895 en 1898 goedgekeur. ’n Sodanige wetsbesluit is sonder koninklike bekragtiging op 10 Desember 1898 geneem, en op 15 Desember 1899 met betrekking tot Noorweë se handels- en nasionale vlag deurgevoer. Soos in die grondwet vasgelê, is die uniekenmerk op die oorlogsvlag tot by die opsegging van die politieke unie met Swede in 1905 behou. Net ná die ontbinding van die unie is die suiwer oorlogsvlag sonder uniekenmerk op 9 Junie 1905 gehys. In Swede is die uniekenmerk op die nasionale vlag tot by die einde van die jaar 1905 bybehou.
Die Noorse vlagwet van 1898[23] bepaal die voorkoms van die handels- en staatsvlae en hulle gebruik deur handels-, doeane- en posskepe. Die vlagregulasies van 1927[24] beskryf verder die gebruik van die staatsvlag op staatseiendom en tydens nasionale vakansiedae.
Die vlagregulasies beskryf ook die tyd wanneer die vlag gehys en gestryk moet word. Tussen Maart en Oktober behoort die vlag vanaf 08h00 gehys te word, terwyl dit tussen November en Februarie vanaf 09h00 gehys moet word. Teen sononder moet die vlag gestryk word, maar nie later as 21h00 nie, al is sononder later. In die noordelike provinsies Nordland en Troms word die vlag tussen 10h00 en 15h00 van November tot Februarie gehys. Hierdie reëls geld nie vir private gebruik van die vlag nie, maar hulle word oor die algemeen deur alle burgers nagekom.
Daar bestaan ook geskrewe reëls vir die behoorlike vou van die vlag, om dit nie aan die grond te laat raak nie, en daarby die ongeskrewe reël dat dit nie onder die middellyf op die lyf gedra moet word nie.
Sedert 1933 mag slegs die Noorweegse, die Sami of die plaaslike amptelike vlae bo-op munisipaliteitsgeboue gehys word. Sedert 2014 kan die munisipaliteite ’n ander vlag hys indien ’n gebeurtenis in die gebou daarmee verband hou. In 2021, tydens die COVID-19-inperkings, het die regering voorgestel om die wetgewing aan te pas sodat munisipaliteite nie ’n geleentheid hoef aan te bied om ’n vlag te hys nie.[25]
Wanneer die Noorse vlag by feestelike of seremoniële geleenthede gehys word, word die hysseremonie dikwels deur ’n trompet, fanfare of die volkslied (Ja, vi elsker dette landet) begelei word. Vir burgerlike gebruik by seremoniële geleenthede is daar geen skriftelike reëls hieroor nie. Die Noorse Weermag gebruik dieselfde trompete vir die hys en stryd van die vlag, genoem flaggappell (“Aandag aan die vlag”).
Volgens die Noorse wet sowel as algemene gebruik moet vlae van ander soewereine lande met dieselfde respek as die Noorse vlag behandel word.
Vir burgerlikes en siviele staatsamptenare is daar geen formele handgebare wat uitgevoer moet word nie. Volgens die algemene gebruik gedra burgerlikes tydens die hys of stryk van die vlag hulself op ’n respekvolle wyse deur na die vlag te staan en kyk. Mans moet sonder hoofbedekking wees (tensy daar godsdienstige, mediese of klimaatsredes is om die kop te bedek).
Al die regeringspersoneel in uniform (byvoorbeeld munisipale verkeersbeamptes, polisiemanne, doeanebeamptes, tronkbewaarders, maritieme vlieëniers, gewapende magte) volg die Noorse Weermag se regulasies oor die hys en stryk van die vlag. Volgens die regulasies moet al die aktiwiteite, indien moontlik, gestaak word sodra ’n hys- of strykseremonie gewaar of die trompetgeskal gehoor word, en die personeel moet die ekserseermaneuver uitvoer (halt en draai na die vlagpaal).
’n Persoon moet die vlag salueer wanneer hy ’n uniformhoed, -pet of -baret dra terwyl hy nie in formasie is nie. ’n Persoon in formasie of wat nie ’n voorgeskrewe uniformhoed nie, moet op aandag bly staan solank die trompette speel, of sodra die hys of stryk van ’n vlag teëgekom word, totdat die vlag óf tot volle hoogte gehys, op halfstok, óf totdat tweederdes van die vlag in die hande van die vlaggeselskap is.
Anders as die Anglo-Amerikaanse tradisies om ’n vlag op te vou (die driehoekige vorm van die Amerikaanse vlag of die vierkantige vorm van die Britse Unievlag) is die Noorse tradisie om die vlag in te draai in ’n silindriese vorm en dit vas te bind nadat dit laat sak is.
In die eerste stap van hierdie prosedure word die vlag in die lengte gevou sodat sy twee lang sye bymekaarkom. Elke helfte word dan 180 grade gevou waarmee die langer wit en blou bane verberg word. Uiteindelik word die gevoude vlag in sy volle lengte, in sy breedte 1⁄4 van die hyser, in ’n rooi silinder opgerol.
As die vlag met ’n lyn toegerus is, word dit om die vlag gedraai en met ’n eenvoudige glipknoop vasgebind. Die gebruik van ’n eenvoudige glipknoop laat een persoon alleen toe om sonder hulp die vlag te hys.
Tydens internasionale missies kan Noorse Gewapende Magte ’n vlag (nasionale of handelsvlag) saamneem wat snags gehys en deur deur ’n kollig verlig word om hul teenwoordigheid aan te dui en moraal te versterk.
Hierdie tradisie het sy oorsprong in die Tweede Wêreldoorlog, toe ’n klein vlag gehys is (gewoonlik bo die hoofkwartier) in die talle kampe van Noorse magte in die Verenigde Koninkryk, die Verenigde State, Swede en Kanada, om te beklemtoon dat die geveg teen die vyand dag en nag sou voortduur tot die finale oorwinning.
Volgens militêre regulasies mag ’n Noorse vlag nooit aan die grond raak nie, aangesien dit oneerbiedig teenoor die vlag is en oorgawe kan beteken.
Fredrik Meltzer het sy voorstel net betyds ingedien wat op 4 Mei 1821 in die parlement uitgestal is saam met ’n groot aantal ander voorstelle. Dit is in die daaropvolgende twee weke deur albei kamers goedgekeur. Meltzer self het geen skriftelike verduideliking verskaf vir sy keuse van ontwerp en kleure nie. Sy bedoelings kan egter afgelei word uit ’n vroeëre brief van 30 April met sy kommentaar oor die voorstel van die vlagkomitee. Dié ontwerp was kwartaalliks rooi en wit verdeel. Meltzer het beswaar aangeteken teen die kleure omdat hulle te naby aan dié van die Deense vlag was. Hy het bygevoeg dat dit ewe onvanpas sou wees om die kleure te kies van enige van “daardie lande waarmee ons verband hou of waarmee ons verbind was”. Pleks daarvan het hy ’n driekleur in rooi, wit en blou voorgestel, “drie kleure wat nou vryheid aandui, soos ons dit gesien het in die Franse vlag van vryheid, en steeds sien in dié van die Nederlanders en Amerikaners, en in die Unie van die Engelse”.[26]
Sy uiteindelike keuse ’n paar dae later van ’n Skandinawiese kruis was duidelik gebaseer op die tradisie wat deur die ander Nordiese lande Denemarke en Swede gevestig is. Hierdie kruis verteenwoordig Christenskap.[27][28] Die rooi en blou kleure het ook eksplisiet na die ooreenstemmende twee lande verwys, die voormalige en destydse unievennote. Almal wat plaaslik, in die pers of in die parlement aan die vlagbesprekings deelgeneem het, het duidelik verstaan wat daardie kleure beteken het. ’n Oorwegend rooi vlag het baie aanhangers gehad onder diegene wat geheg was aan die unie met Denemarke of aan sy vlag, wat oor eeue heen ook dié van Noorweë was. Ander, wat Denemarke as ’n onderdrukker beskou het, was ten gunste van die blou kleur wat verband hou met die nuwe Sweedse dinastie wat gesien is as meer ontvanklik vir die Noorse ambisies van outonomie.[29] Gevolglik het die meeste van die ander vlagvoorstelle op die agenda óf rooi óf blou as die oorheersende kleur gehad, na gelang van die politieke voorkeure van die voorstellers.[30]
Seamless Wikipedia browsing. On steroids.
Every time you click a link to Wikipedia, Wiktionary or Wikiquote in your browser's search results, it will show the modern Wikiwand interface.
Wikiwand extension is a five stars, simple, with minimum permission required to keep your browsing private, safe and transparent.