From Wikipedia, the free encyclopedia
Die nasionale vlag van Bulgarye is op 27 November 1990 amptelik in gebruik geneem. Die vlag vertoon ’n horisontale driekleur in wit, groen en rooi. Die vlag is aanvanklik aanvaar na die Russies-Turkse Oorlog (1877–1878) toe Bulgarye onafhanklikheid verkry het. Die nasionale vlag en embleem is telkemale verander, vernaam gedurende die kommunistiese era. Die huidige vlag is in 1991 hervestig met die grondwet van Bulgarye, en in 1998 deur ’n wet bekragtig.
In 886 het Pous Nicolaas I prins Boris I van Bulgarye, wat sy mense kort tevore gekersten het, geadviseer om weg te beweeg van die gebruik van ’n perdestert (tugh) as banier en om die Heilige Kruis in plaas daarvan te gebruik.[2]
Latere weergawes van die kronieke van Johannes Skylitzes en Konstantin Manasses die leër van die Khan Kroem uitgebeeld as dat hulle vlae in rooi[3] of met ’n swart fraiing gebruik.[4] Die leër van Simeon I van Bulgarye word ook uitgebeeld met die gebruik van rooi baniere in verskillende vorme.[4] Die kroniek van Radziwiłł (Königsberg) beeld ook Stsaar Simeon I se leër uit onder ’n rooi vlag in hul veldtog teen Bisantium in 921-922, maar die uitbeelding van die Hongaarse inval van 894 toon Drastar, die Bulgaarse vesting, onder ’n wit vlag met ’n sekelmaan en sespuntige ster. Enige geïllustreerde weergawes van vlae in bogenoemde manuskripte, ongeag die faksie of die tyd wat aangedui word, stem sterk ooreen met die algehele styl van illustrasie wat in elke manuskrip gebruik is. Voorts dateer geen van die manuskripte uit die tyd van die Eerste Bulgaarse Ryk nie. Die historisiteit van daardie vlae is dus onmoontlik om te bevestig.
Voorstellings van Bulgaarse vlae kan op verskeie portolane uit die 14de en 15de eeu gesien word. Op sulke kaarte het die vlae gewoonlik ’n wit of goue[5][6] agtergrond en beeld dit óf die insinje van die regerende Huis Sjisjman[7] óf onbekende simbole[8][9] in rooi uit. Daardie sketse is aanmerklik meer divers as die vlae van die buurlande soos die Oostelike Romeinse Ryk, die Goue Horde of die Keiserryk Serwië, wat in dieselfde kaarte oorgewend eenders is.
Na Bulgarye se bevryding na afloop van die Russies-Turkseoorlog in 1878 is die vlag soos volg in die Tarnovo-grondwet van 1879 beskryf:
Art. 23. Die vlag van die Bulgaarse volk is driekleurig en bestaan uit wit, groen en rooi kleure wat horisontaal geplaas is.[10] |
Van 1947 tot 1990 is die wapen van die Bulgaarse Volksrepubliek in die skildhoek geplaas (slegs in die wit baan). Dit was ’n leeu in ’n koringkrans onder ’n rooi ster en bo ’n lint waarop die datum 9 September 1944, die dag van die Bulgaarse staatsgreep van 1944 en wat gelei het tot die totstandkoming van die Bulgaarse Volksrepubliek, aangebring is. In 1971 is dit verander sodat die lint die jare 681 (die jaar waarin die Eerste Bulgaarse Ryk deur Asparoech gestig is) en 1944 daarop vertoon.
Na die val van kommunisme in 1990 is die sg. Zjifkof-grondwet gewysig sodat die vlag van voor die kommunistiese tyd weer ingestel kon word.[11] Die nuwe Bulgaarse grondwet wat in 1991 aanvaar is, beskryf die vlag soos volg:
Art. 166. Die vlag van die Republiek van Bulgarye sal ’n driekleur wees: wit, groen en rooi van bo af, horisontaal geplaas.[12] |
’n Gewilde weergawe van die vlag wat geen amptelike status geniet nie, is ook algemeen bekend. Daarop is die volle wapenskild in die vlag se skildhoek, oor die wit en groen bane.[13]
Die kleure van die nasionale vlag is wit, groen en rooi. Volgens die Standaardiserings- en Metrologiekomitee is die vlag se kleure soos volg:
Kleurskema | Wit | Groen | Rooi | |||
---|---|---|---|---|---|---|
RGB-kleursisteem | 255, 255, 255 | 0, 155, 116 | 208, 28, 31 | |||
Heksadesimaal | FFFFFF | 009B74 | D01C1F | |||
Pantone | Witheid meer as 80% | 347 U | 032 U | |||
Pantone (tekstiel) | Witheid meer as 80% | 17-5936 TCX | 18-1664 TCX | |||
CMYK | 0/0/0/0 | 100/0/100/0/ | 0/100/100/0 | |||
RAL | Veilig | RAL 6024 | RAL 3028 |
Die Wet op die Staatseël en Nasionale Vlag van die Republiek Bulgarye wat op 24 April 1998 gepromulgeer is, stel die volgende:
Art. 15. (1) Die nasionale vlag van die Republiek Bulgarye is ’n nasionale simbool wat die onafhanklikheid en soewereiniteit van die Bulgaarse staat uitdruk.
(2) Die nasionale vlag van die Republiek Bulgarye is driekleur: wit, groen en rooi bane wat horisontaal van bo na onder lê. Wanneer die vlag vertikaal vertoon word, word die kleure in wit, groen en rooi in vertikale bane vertoon met wit aan die vlagpaalkant. (3) Die nasionale vlag is reghoekig van aard. Die bane van die individuele kleure is ewe groot en lê horisontaal op die reghoek.[14] |
Seamless Wikipedia browsing. On steroids.
Every time you click a link to Wikipedia, Wiktionary or Wikiquote in your browser's search results, it will show the modern Wikiwand interface.
Wikiwand extension is a five stars, simple, with minimum permission required to keep your browsing private, safe and transparent.