From Wikipedia, the free encyclopedia
Die verfransing van Brussel verwys na die transformasie wat Brussel ondergaan het van 'n oorwegend Nederlandssprekende na 'n tweetalige, of eintlik veeltalige, stad met Frans as meerderheidstaal en lingua franca.[2] Ofskoon Brussel oorspronklik 'n stad was waar die mense Brabantse dialekte gepraat het,[3][4][5] het die taalkundige situasie gedurende die laaste twee eeue drasties verander. Hierdie vooruitgang van Frans word nie alleen verklaar deur Franstalige immigrasie uit Frankryk en Wallonië nie, maar vernaamlik deur die assimilasie van die Vlaamse bevolking.[6] Hierdie evolusie is 'n gevolg van die laer aansien van Nederlands as kultuurtaal in die destydse Belgiese samelewing,[7] versterk deur die aantrekkingskrag van Frans as wêreldtaal.[8][9]
Dié taalverskuiwing het stadigaan begin in die 18de eeu,[10] maar het egter versnel na die onafhanklikheid van België van Nederland namate Brussel vinnig begin groei het.[11][12] Die werklike verfransing van die stadsbevolking het eers in die tweede helfte van die 19de eeu begin.[13] Sedert 1880[14] groei die aandeel tweetaliges vinnig aan ten koste van die eentalige Nederlandstaliges.[15][8] Nederlands word ook nie meer aan die volgende generasies oorgedra nie,[16] waardeur die aandeel eentalige Franstaliges sedert 1910 sterk toegeneem het.[17]
In die tydperk ná 1960,[18] danksy die vaslegging van die taalgrens[19] en die ekonomiese opbloei van Vlaandere,[15] het die verfransing van Nederlandssprekendes tot 'n einde gekom.[20][21] Tydens die tweede helfte van de 20ste eeu word Brussel 'n sentrum vir internasionale betrekkinge. Dit het verder bygedra tot 'n skerp toename in die getal buitelandse immigrante wat die gebruik van Frans of hulle eie tale verkies,[16] ten koste van Nederlands.[22] Tegelykertyd het Frans as gevolg van die verstedeliking[23] in 'n bykomende aantal aangrensende Vlaamse dorpe die taal van die meerderheid geword.[19][24][25] Dié verskynsel word deur die Vlaminge die "Franstalige olieplek" genoem[26] en is, saam met die politieke toekoms van Brussel,[27] een van die belangrikste oorsake van spanning in die Belgiese politieke lewe.[28][29][15]
Seamless Wikipedia browsing. On steroids.
Every time you click a link to Wikipedia, Wiktionary or Wikiquote in your browser's search results, it will show the modern Wikiwand interface.
Wikiwand extension is a five stars, simple, with minimum permission required to keep your browsing private, safe and transparent.