![cover image](https://wikiwandv2-19431.kxcdn.com/_next/image?url=https://upload.wikimedia.org/wikipedia/commons/thumb/6/60/UltimaThule_CA06_color_20190516.png/640px-UltimaThule_CA06_color_20190516.png&w=640&q=50)
Tolien
From Wikipedia, the free encyclopedia
Toliene (van die Griekse θολός tholós, "wasig" of "troebel")[2] is die naam wat die sterrekundige Carl Sagan ingevoer het vir ’n groot verskeidenheid organiese verbindings wat gevorm word deur ultravioletsonstraling van eenvoudige verbindings wat koolstof bevat, soos koolstofdioksied (CO2), metaan (CH4) of etaan (C2H6), dikwels in kombinasie met stikstof (N2) of water (H2O).[3][4][5] Toliene vorm nie natuurlik op die moderne Aarde nie, maar word in groot hoeveelhede aangetref op die oppervlak van ysliggame in die buitenste Sonnestelsel, en as rooierige gasdeeltjies in die atmosfeer van planete en mane in dié streek.
![Thumb image](http://upload.wikimedia.org/wikipedia/commons/thumb/6/60/UltimaThule_CA06_color_20190516.png/640px-UltimaThule_CA06_color_20190516.png)
In die teenwoordigheid van water kan toliene rou materiale wees vir prebiotiese chemie, dus die nielewende chemie wat die basiese chemikalieë is wat lewe vorm. Hul bestaan het implikasies vir die oorsprong van lewe op Aarde en moontlik ander planete. As deeltjies in ’n atmosfeer verstrooi toliene lig en kan hulle die bewoonbaarheid van planete beïnvloed.
Op die mane Triton en Titaan word toliene van stikstof en metaan onder die invloed van sonlig gevorm. Triton se atmosfeer bevat 99,9% stikstof en 0,1% metaan, en Titaan s’n 98,4% stikstof en 1,6% metaan. Die oranjerooi kleur van laasgenoemde se atmosfeer word juis deur die aanwesigheid van toliene veroorsaak.[6][7]
Ook op Pluto se grootste maan, Charon, kom toliene aan die noordpool voor, blyk uit waarnemings van die ruimtetuig New Horizons, wat in 2015 verby die dwergplaneet gevlieg het.[8] Die hele (486958) 2014 MU69, wat ook deur New Horizons besoek is, is rooierig vanweë toliene op sy oppervlak.[9][10]