![cover image](https://wikiwandv2-19431.kxcdn.com/_next/image?url=https://upload.wikimedia.org/wikipedia/commons/thumb/4/4a/Artist%2527s_concept_of_collision_at_HD_172555.jpg/640px-Artist%2527s_concept_of_collision_at_HD_172555.jpg&w=640&q=50)
Theia (planeet)
From Wikipedia, the free encyclopedia
Theia is ’n hipotetiese antieke planeet in die vroeë Sonnestelsel wat, volgens die reuse-impakhipotese, sowat 4,5 miljard jaar gelede teen ’n ander planeet, Gaia (die vroeë Aarde), gebots het.[1][2] Volgens dié hipotese was Theia ’n trojaan van die Aarde omtrent so groot soos Mars, met ’n deursnee van sowat 6 102 km. Die geoloog Edward Young van die Universiteit van Kalifornië, Los Angeles, het op grond van rotse wat in die Apollo-sendings 12, 15 en 17 versamel is, voorgestel Theia het trompop met die Aarde gebots,[3] in teenstelling met die vorige teorie dat die Aarde net skrams getref is. Modelle van die botsing wys Theia se puin het om die Aarde versamel en die vroeë Maan gevorm.
![Thumb image](http://upload.wikimedia.org/wikipedia/commons/thumb/4/4a/Artist%27s_concept_of_collision_at_HD_172555.jpg/640px-Artist%27s_concept_of_collision_at_HD_172555.jpg)
Sommige wetenskaplikes glo die materiaal wat tydens die botsing die lug ingeskiet is, het aanvanklik twee mane gevorm[4][5] wat later saamgepak en die Maan gevorm het soos ons dit vandag ken. Die Theia-hipotese verduidelik ook hoekom die Aarde se kern groter is as wat verwag kan word van ’n liggaam met sy grootte: Volgens die hipotese het Theia se kors en mantel met die Aarde s’n versmelt.[6]