T20I-wêreldbeker
From Wikipedia, the free encyclopedia
Die T20I-wêreldbeker (Engels: ICC T20 World Cup) is ’n internasionale krieketkompetisie wat al om die twee jaar gehou word om die T20I-krieketwêreldkampioen te bepaal. Dié toernooi is die tweede belangrikste en tweede bekendste in internasionale krieket net ná die Krieketwêreldbeker in EDIs en word deur die Internasionale Krieketraad georganiseer.
T20I-wêreldbeker | |
T20I-wêreldbeker 2026 | |
Die trofee waarom meegeding word | |
Sportsoort | T20I-krieket |
---|---|
Gestig | 2007 |
Eienaar | Internasionale Krieketraad |
Inwydingseisoen | T20I-wêreldbeker 2007 |
Deelnemende lande | wêreldwyd |
Aantal spanne | 20[1] |
Mees onlangse kampioen | Indië (2024) |
Verwante kompetisies | Kampioenetrofee, Krieketwêreldbeker, o/19-krieketwêreldbeker, Wêreldtoetskampioenskap |
Tot op hede is nege toernooie beslis en slegs Engeland, Indië Wes-Indië kon dié toernooi twee keer wen. Die eerste T20I-wêreldbeker 2007 in Suid-Afrika is gewen deur Indië, nadat hulle Pakistan in die eindstryd op Wanderers in Johannesburg verslaan het. Die T20I-wêreldbeker 2009 in Engeland is gewen deur die vorige naaswenner Pakistan wat Sri Lanka in die eindstryd op die Londense Lord’s geklop het. Die T20I-wêreldbeker 2010 in die lande van Wes-Indië is gewen deur Engeland, nadat hulle in die eindstryd op Barbados se Kensington-ovaal Australië geklop en sodoende hul eerste internasionale titel ingepalm het. Die T20I-wêreldbeker 2012 was die eerste in Asië met al die wedstryde wat in Sri Lanka aangebied is. Wes-Indië het met die trofee weggestap nadat hulle die gasheer in die eindstryd op R. Premadasa-stadion in Colombo verslaan en sodoende hul eerste titel sedert die Kampioenetrofee 2004 ingepalm het.[2] Die T20I-wêreldbeker 2014 in Bangladesj is gewen deur Sri Lanka, nadat hulle die eerste span geword het om in drie eindstryde te verskyn en Indië op die Sher-e-Bangla Nasionale Krieketstadion in Dhaka verslaan het. Die T20I-wêreldbeker 2016 in Indië is gewen deur Wes-Indië, nadat hulle Engeland op Eden Gardens in Kolkata verslaan en sodoende die eerste span geword het om dié toernooi twee keer te wen. Die T20I-wêreldbeker 2021 in Oman en die Verenigde Arabiese Emirate is beklink deur Australië, nadat hulle Nieu-Seeland op die Doebai Internasionale Krieketstadion in Doebai verslaan het. Tydens die T20I-wêreldbeker 2022 in Australië het Engeland Pakistan op die Melbourne-krieketveld in Melbourne geklop en sodoende sy tweede T20I-titel ingepalm. Indië is die huidige T20I-kampioen, nadat hulle die T20I-wêreldbeker 2024-eindstryd op Barbados se Kensington-ovaal hul tweede T20I-titel ingepalm het deur Suid-Afrika, wat in sy eerste krieket- of T20I-wêreldbekertoernooi vir mans verskyn het, te verslaan.
In die nege kampioenskappe wat al aangebied is, het ses lande reeds die titel ingepalm. Engeland, Indië en Wes-Indië het al ’n rekord van twee keer gewen. Australië, Pakistan en Sri Lanka het elk een titel ingepalm. Daarbenewens het Bangladesj, Nieu-Seeland en Suid-Afrika aan al die T20I-wêreldbekertoernooie deelgeneem, maar hulle kon dit tot op hede nie wen nie, hoewel Nieu-Seeland reeds in die 2021- en Suid-Afrika in die 2024-eindstryd verskyn het. Daarmee is elke vasteland deur minstens een nasionale span in ’n eindstryd verteenwoordig en elke vasteland het ook minstens een T20I-wêreldbekertoernooi gehuisves.