Skandinawië
From Wikipedia, the free encyclopedia
Die term Skandinawië verwys in geografiese opsig net tot die Skandinawiese Skiereiland met Noorweë in die weste en Swede in die ooste, maar sluit in 'n breë kulturele en politieke sin die vyf lidstate van die Nordiese Raad in, naas Noorweë en Swede dus ook Denemarke, Finland en Ysland. Die terme Skandinawiese en Nordiese lande word gevolglik dikwels as sinonieme gebruik.
Met die uitsondering van Finland se Finssprekende meerderheid praat alle Skandinawiese volke verwante Noord-Germaanse tale en het 'n trotse demokraties-parlementêre tradisie wat in die geval van Ysland selfs na die 10de eeu terugdateer. Vandag is Finland en Ysland republieke, terwyl die ander Skandinawiese lande grondwetlike monargieë vorm.
Die huidige politieke bande tussen die vyf lande word versterk deur 'n gemeenskaplike geskiedenis: In die 10de eeu het die Normandiërs hulle in groot dele van Noord-Europa gevestig, asook in die Noord-Franse gewes Normandië. Maar afgesien van die Wiking-tydperk en Swede se kortstondige rol as Noord-Europese groot moondheid in die 17de eeu was Skandinawië tradisioneel op die periferie van Europa.
In die loop van hulle geskiedenis is alle Skandinawiese lande gemeenskaplik geregeer. Swede en Finland het eers in 1809 van mekaar geskei, Noorweë en Swede in 1905, en Denemarke en Ysland in 1944.
Vanweë hulle noordelike ligging, wat hulle ook aan Atlantiese weerstelsels blootstel, word die Skandinawiese lande deur 'n koel en vogtige klimaat gekenmerk wat in die algemeen nie bevorderlik vir landbou is nie. Die lang daglig van die Nordiese somer kompenseer egter vir die ongunstige klimaattoestande sodat selfs noord van die Noordpoolsirkel nog graan verbou kan word.
Tot by die 19de eeu was die Skandinawiese nasies suiwer agrariese gebiede wat tot die armste lande in Europa behoort het, en honderdduisende emigrante was gedwing om 'n nuwe heenkome in Noord-Amerika te vind. Die nywerheidsomwenteling van die 19de eeu het van Skandinawië egter een van die welvarendste wêreldstreke gemaak. Die huidige Skandinawiese ekonomieë steun op hulle natuurlike hulpbronne soos geotermiese energie (Ysland) en waterkrag (Ysland, Noorweë en Swede), ruolie (Noorweë), ystererts (Swede) en hout (Noorweë, Swede en Finland), maar is daarnaas ook hoogs ontwikkelde nywerheidslande met 'n uitgebreide dienstesektor en gevorderde welvaartstelsel.
Die Skandinawiese modelekonomie behels 'n tegnologies innovatiewe sekundêre sektor met 'n groot aandeel van dienste en 'n groot vraag na produksiegerigte dienste. Die huishoudings se moderne struktuur is gekenmerk deur 'n hoë persentasie ekonomies aktiewe vroue wat saam met die gesofistikeerde welvaartstelsel die verskaffing van uitgebreide sosiale dienste deur die staatsektor noodsaaklik en moontlik maak.[1]
Die gewildheid van die Skandinawiese leefstyl en ontwerp het van ondernemings soos die Sweedse meubelvervaardiger Ikea, multinasionale maatskappye gemaak wat wêreldwyd op markte meeding, terwyl die progressiewe en egalitêre houdings en religieuse ongebondenheid van hulle bevolkings van die Skandinawiese lande ook wêreldleiers op die gebied van politieke gelykberegtiging gemaak en verseker het dat hulle tot die lande met die hoogste lewenskwaliteit behoort.