![cover image](https://wikiwandv2-19431.kxcdn.com/_next/image?url=https://upload.wikimedia.org/wikipedia/commons/thumb/0/08/International_Recognition_of_Scientology.png/640px-International_Recognition_of_Scientology.png&w=640&q=50)
Sciëntologie
’n filosofies-religieuse beweging wat deur die Amerikaanse filosoof, ontdekkingsreisiger en wetenskapsfiksieskrywer L. Ron Hubbard / From Wikipedia, the free encyclopedia
Sciëntologie (afgelei van die Latynse scire «weet» en die Griekse logos «die studie van iets; die woord») is 'n filosofies-religieuse beweging wat deur die Amerikaanse filosoof, ontdekkingsreisiger en wetenskapsfiksieskrywer L. Ron Hubbard (1911–1986) ontwikkel is en vir sy volgelinge na bewering 'n presiese pad wys wat hulle in staat stel om hul ware natuur as geestelike wesens en hul verhouding tot hulself, hul familie, ander groepe mense, die mensheid in sy geheel, alle lewensvorme, die materiële heelal, die spirituele heelal en die Opperste Wese of Oneindigheid te ontsleutel. Sciëntologie stel kerklede in staat om langs die sogenaamde Brug na Totale Vryheid te beweeg en sodoende geestelike verligting en die status van 'n sogenaamde Operating Thetan met hoër vlakke van bewussyn te bereik.
![Thumb image](http://upload.wikimedia.org/wikipedia/commons/thumb/e/e5/Berlin-Scientology-2007.jpg/640px-Berlin-Scientology-2007.jpg)
![Thumb image](http://upload.wikimedia.org/wikipedia/commons/thumb/8/8e/Scientology_Volunteer_Ministers_doing_medical_work_in_Haiti_2010.jpg/640px-Scientology_Volunteer_Ministers_doing_medical_work_in_Haiti_2010.jpg)
![Thumb image](http://upload.wikimedia.org/wikipedia/commons/thumb/0/08/International_Recognition_of_Scientology.png/640px-International_Recognition_of_Scientology.png)
Lande waar Sciëntologie as 'n godsdiens erken word.
Lande waar Sciëntologie belastingvry is.
Lande waar Sciëntologie huwelike mag voltrek.
Lande waar Sciëntologie as 'n kultus beskou word.
Lande waar die situasie onbekend is.
Die beweging het in 1950 in die Verenigde State met die publikasie van L. Ron Hubbard se boek Dianetics: The Modern Science of Mental Health ontstaan, waarin Hubbard Dianetiek as 'n alternatief tot tradisionele terapieë voorgestel het. Dianetiek het op nuwe meganismes vir die oorlewing van die individu en nuwe vorme van selfuitdrukking gekonsentreer. Baie van die leerstellings is uit die moderne psigologie oorgeneem. Hubbard het onder meer beweer dat traumatiese ervarings uit die verlede as sogenaamde engramme gestoor word en die oorsaak van irrasionele en afwykende gedrag kan wees. Deur die sogenaamde proses van auditing het aanhangers die moontlikheid gekry om hulle engramme onder die toesig van 'n praktisyn en met behulp van die sogenaamde e-meter op te spoor en uit te wis.
Hubbard het ná sy sukses met Dianetics (Dianetika), waarvan miljoene eksemplare verkoop is en wat ook vyf jaar ná sy afsterwe (of, soos die Kerk dit gestel het, nadat Hubbard van sy liggaam ontslae geraak het om sy navorsing op 'n ander vlak voort te sit) weer sy verskyning op Amerikaanse blitsverkoperlyste gemaak het, meer navorsing oor die wese en die sin van die menslike lewe gedoen, en so is Dianetiek geleidelik uitgebrei totdat dit 'n religieuse dimensie gekry het – Scientology. Die resultaat van Hubbard se navorsing en Kerkaanhangers se geloofsoortuiging is dat elke mens naas sy liggaam en gees ook uit 'n onsterflike spirituele wese, die sogenaamde Thetan, bestaan, wat oor talle menslike lewens strek en die mag het om die basiese elemente van die bestaan soos materie, energie, ruimte en tyd self te skep. Sodoende beweeg die leerstellings van Sciëntologie, net soos dié van tradisionele godsdienste en religieus-filosofiesxe stelsels, buite alle limiete van wetenskaplike ervaring en kennis.
Die leerstellings van Sciëntologie baseer op en word uiteengesit in die uiters omvangryke materiaal wat deur Hubbard gepubliseer is - agttien grondleggende geskrewe werke en 280 begeleidende toesprake en lesings, soos toeganklik vir die publiek in elke Sciëntologiese kerk en sending. 'n Klein deel geskrifte bly beperk tot die hoogste vlakke van spirituele bewussyn. Van hierdie tekste, onder meer Hubbard se kosmologie of ontstaansmite van die menslike lewe op aarde, is deur internet-randgroepe gepubliseer met die doelwit om Sciëntologie te diskrediteer. Die outentisiteit daarvan kan deur buitestaanders nie beoordeel word nie.
In sy georganiseerde vorm, die Kerk van Sciëntologie, wat in 1954 in Los Angeles gestig is en vinnig na ander lande uitgebrei het, het die nuwe geloof tot een van die welvarendste en invloedrykste Nuwe Religieuse Bewegings van die 20ste en 21ste eeue gegroei. Die kerk beywer hom met sy verskillende instellings in meer as eenhonderd lande vir religieuse vryheid, die opleiding van praktisyns en maatskaplike en politieke hervorming. Van die Kerk se publikasies en oudiovisuele media word in Afrikaans aangebied. Deur sy invloed op welbekende persoonlikhede uit die vermaaklikheidsbedryf het Sciëntologie baie aandag in die media gekry – tot 'n punt waar die meeste publikasies daaroor kommersieel van aard, sensasiegedrewe en onakkuraat is.
Tot dusver is daar min serieuse wetenskaplike navorsing oor Sciëntologie gedoen sodat net 'n beperkte aantal neutrale verslae en werke oor Sciëntologie beskikbaar is.[1] Nie alle bydraes was serieus nie, terwyl die Kerk aanvanklik druk op navorsers geplaas en met regtelike stappe gedreig het wanneer omstrede materiaal gepubliseer is.[2] Akademiese bydraes fokus onder meer op een van die opvallendste aspekte in die persepsie van Sciëntologie - die bogenoemde invloed van media, veral die sensasiepers en sensasietelevisie, op die openbare waarneming van nuwe religieuse bewegings.[3]