Ruïne
From Wikipedia, the free encyclopedia
Die term ruïne (afgelei van Latyns ruere "[ineen]stort" en ruina, in Afrikaans ook bouval genoem) verwys na enige mensgemaakte struktuur wat hom weens 'n gebrek aan onderhoudwerk, as gevolg van doelgerigte vernietiging (soos byvoorbeeld oorlogshandelinge) of natuurrampe tans in 'n vervalle toestand bevind.
Ruïnes kan onderverdeel word in twee kategorieë:[2]
- historiese ruïnes wat van oudsher of oor 'n lang tydperk in 'n vervalle toestand was sodat die oorspronklike bouvorm en doelwit moontlik tans nie meer bekend is nie; en
- tydelike ruïnes waarvan die oorspronklike bouvorm moontlik nog deur tydgenote onthou kan word en wat as gevolg van meer onlangse gebeurtenisse soos oorloë of natuurrampe skade gely het. In hierdie kategorie val ook voltooide geboue wat as gevolg van politieke omwentelinge of tegnologiese vooruitgang leeg staan, of onvoltooide geboue wat weens 'n gebrek aan fondse nie voltooi kon word nie.
'n Derde soort ruïnes val in 'n besondere kategorie: kunsmatige bouvalle wat in die 18de en 19de eeu – ná die herontdekking van Pompeii – 'n soort modeverskynsel geword het en volgens antieke voorbeelde as deel van destydse Klassisistiese en Romantiese tuinargitektuur geskep is. As tuinomheinings vind gemesselde mure met ruïne-elemente ook vandag weer aanklank.[3]