Père-Lachaise-begraafplaas
From Wikipedia, the free encyclopedia
Die Père-Lachaise-begraafplaas (Frans: Cimetière du Père-Lachaise) is die grootste begraafplaas in die Paryse stadsgebied en een van die bekendste vredehowe ter wêreld. In Père-Lachaise, wat in die 20ste Arrondissement geleë is, lê baie bekende persoonlikhede begrawe, onder wie die sangers Gilbert Bécaud, Jim Morrison en Alain Bashung, die skrywers Honoré de Balzac, Molière, Oscar Wilde, en Marcel Proust, die aktrises Sarah Bernhardt en Annie Girardot, die danseres Isadora Duncan, die komponiste Frédéric Chopin en Georges Bizet, die skilder Gustave Caillebotte, die mikoloog en botanikus Christiaan Hendrik Persoon, die nyweraar en motorpionier Armand Peugeot, die filosoof Petrus Abaelardus en die politikus Édouard Daladier.
Ligging
20ste Arrondissement
Parys, Frankryk
Gevestig in
1804
Oppervlakte
44 hektaar
Permanente grafte
69 000
Terwyl daar in 1804 nog net dertien grafte was, het Père-Lachaise intussen tot 'n begraafplaas met 'n oppervlakte van 44 hektaar en meer as permanente 69 000 grafte gegroei. Sowat een miljoen mense het hier hul laaste rusplek gevind. Père-Lachaise trek jaarliks sowat drie miljoen besoekers en is sodoende die mees besoekte begraafplaas ter wêreld.[1]