Ponte-toringgebou
From Wikipedia, the free encyclopedia
From Wikipedia, the free encyclopedia
Die Ponte-toringgebou (ook bekend in Engels as Ponte City Apartments) is 'n 54-verdieping hoë residensiële wolkekrabber in Berea, digby Hillbrow, Johannesburg, Suid-Afrika. Met 'n hoogte van 173 meter is dit tans die tweede hoogste gebou in Suid-Afrika en derde hoogste in Afrika. Die gebou in die brutalistiese styl is in 1976 voltooi en bemark as een van die beste adresse in die Goudstad. Die ses dakwoonstelle het oor wynkelders, sweetbaddens, patio's met braaiplekke en privaat uitsigdekke beskik.
Verdiepings
54 (bogronds)
Voltooiing
1976
Argitekte
Mannie Feldman · Manfred Hermer
Rodney Grosskopff
Opdraggewer
Nasou Bpk.
Straatadres
1 Lily Avenue / Lilylaan
Berea
Johannesburg
Argitektoniese inspirasie
Marina City Towers, Chicago
Boustyl
Die argitek Rodney Grosskopf was 29 jaar oud toe hy die Ponte-toringgebou ontwerp het, met die Marina City-toringgebou in Chicago as sy inspirasie. Oorspronklik was hy van plan om twee Ponte-toringgeboue naas mekaar op te rig wat as 'n soort "poort tot die Goudstad" sou dien.
In 1995, toe die gebou die slagoffer geword het van stedelike verval, prostitusie en dwelmhandel, maar – voordat dit beveilig is – ook tientalle kere deur selfmoordenaars gekies is as hul finale vertrekpunt (die gebou het toe as Suid-Afrika se Suicide Central bekendgestaan, met 63 gedokumenteerde selfmoorde[1]), het die vragwa- en logistiekonderneming Kempston Group die silindriese toringgebou gekoop. 'n Beplande verkoop aan en herontwikkeling deur David Selvan en Nour Addine Ayyoub is in 2008 weens die uitwerkings van die wêreldwye finansiële krisis gestaak. Woonstelle word tans teen bekostigbare pryse verhuur.[2]
Tans dra die kroon reg rondom 'n reuse neonverligte advertensiebord, die grootste in die Suidelike Halfrond, wat Vodacom in rooi bemark (voorheen in blou), nadat dit etlike jare lank Coca-Cola in rooi vertoon het.
Vanaf 2011 het die Ponte-toringgebou 'n soort simbool vir Johannesburg se stedelike regenerasie geword nadat Kempston Group die meeste van die wolkekrabber se 54 verdiepings laat herstel het. Elke verdieping is van 2 km se nuwe elektriese drade en sanitêre pype voorsien, terwyl ook agt hysbakke in die gebou herstel is. Tans huisves die toringgebou sowat 3 000 bewoners uit die werkers- en middelklas met verskillende agtergronde, onder wie studente, jong professionele en immigrante uit Afrikalande soos Kongo, Nigerië en Zimbabwe.[3]
Seamless Wikipedia browsing. On steroids.
Every time you click a link to Wikipedia, Wiktionary or Wikiquote in your browser's search results, it will show the modern Wikiwand interface.
Wikiwand extension is a five stars, simple, with minimum permission required to keep your browsing private, safe and transparent.