Ds. Philippus (Phil) Lodewickus Olivier (21 Junie 1918 in Germiston26 Augustus 2008 in Kaapstad) was predikant in drie gemeentes van die Nederduitse Gereformeerde Kerk, assistentredakteur van die Kerkbode en samesteller van Ons gemeentelike feesalbum, 'n oorsig oor die ontstaan en groei van byna al die destydse NG gemeentes met geleentheid van die 300-jarige herdenking in 1952 van Jan van Riebeeck se landing aan die Kaap, die sogenaamde Van Riebeeckfees.

Thumb
Ds. Phil Olivier in 1949.
Thumb
Stofomslag van Ons gemeentelike feesalbum (1952), waarvan Olivier die samesteller was.
Thumb
Stofomslag van Wie is wie in ons sendingvelde (1952), wat Olivier geskryf het.
Thumb
Stofomslag van Kom droom met my, wat in 1942 uit Olivier se pen verskyn het by die Nasionale Pers.
Thumb
Buiteblad van Offer wat gepubliseer is deur Nasionale Boekhandel. Die jaartal staan nie in die boek nie, maar wel dat dit die agtste boek in die sesde jaargang van Ons Eie Biblioteekskema is. Dié skema het in 1946 begin en dus was die sesde jaargang 1951.
Thumb
Die stofomslag van Hier's die bende, wat in 1956 by N.G. Kerk-uitgewers verskyn het.

Agtergrond

Ds. Phil Olivier se ouers was Johannes Diederik Olivier en Christine Elizabeth Lamont. Hy begin sy skoolopleiding in 1924 aan die Laerskool Germiston-Suid en matrikuleer in 1934 aan die Hoërskool Germiston. Van 1935 tot 1937 studeer hy aan die Universiteit van die Witwatersrand en behaal sy B.A.-graad. Die volgende jaar begin hy sy studie aan die Teologiese Fakulteit (Afd. B) van die Universiteit van Pretoria en ontvang die B.D.-graad in 1941. Aan die einde van 1942 word hy as proponent gelegitimeer.

Kerklike loopbaan

Ná 'n kort bediening in die gemeente Louis Trichardt word Olivier in 1945 leraar van die NG gemeente Vergenoeg in Kenia, maar in 1951 verhuis hy en sy gesin Kaapstad toe. Hulle noem hulle huis "Vergenoeg" ter herinnering aan hul wonderlike tye in Oos-Afrika. Op 1 Augustus 1951, in die ouderdom van net 33 jaar, word hy redaksionele hoof van N.G. Kerk-uitgewers en beklee dié pos tot 1959. In dié tyd help hy met die samestelling van die Jaarboek van die NG Kerke en is hy samesteller van Ons gemeentelike feesalbum. In die voorwoord, gedagteken Februarie 1952, skryf Olivier: "Hier het ons 'n boek wat nie daarop aanspraak gaan maak 'n standaard-werk te wees nie. Die gedagte was net om 'n 'mooi boek' in die hande van ons lidmate te stel wat as eenvoudige aandenking aan die groot dade van God wat ons Kerk – wat drie eeue gelede hier geplant is – kon dien."

Kerkbode

In 1960 word hy assistentredakteur van die Kerkbode in Kaapstad. Ná die aftrede van ds. M.J. van der Westhuizen, wat 21 jaar lank redakteur was, neem Olivier as redakteur waar tot dr. Andries Treurnicht op 1 Maart 1960 redakteur word. Hulle het sewe jaar saamgewerk. In dié tyd was daar intense spanning oor onder meer die Cottesloe-kerkeberaad en pogings om afsonderlike ontwikkeling Skriftuurlik te regverdig. Treurnicht het 'n behoudende standpunt ingeneem, maar Olivier was 'n profetiese stem by die koerant wat hom nie met die verkramptes in die Kerk kon vereenselwig nie.

In 1967 word Treurnicht op versoek van die eerste minister, B.J. Vorster, die redakteur van die Pretoriase middagblad Hoofstad, waarna die kommissie vir kerklike tydskrifte besluit om die pos van assistentredakteur af te skaf. Olivier moes sy pos binne ses maande ontruim, maar word die vryheid gegun om vroeër te gaan, indien hy dit so sou verkies. Op dieselfde vergadering op 21 Junie 1967 waarop Treurnicht sy bedanking as redakteur aan die Algemene Kommissie vir Kerklike Tydskrifte en die Jaarboek meegedeel het, is besluit watter name as opvolger vir Treurnicht in volgorde aan die Moderatuur en Algemene Sinode deurgestuur sou word. Olivier se naam het nie onder dié drie verskyn nie en pleks van 'n assistentredakteur sou 'n joernalistieke assistent die redakteur voortaan bystaan. Die latere ds. Herbert Brand is op 12 September 1967 in dié pos aangestel.

Olivier verlaat die Kerkbode aan die einde van 1967 met hartseer. Hy het self gesê dat dit vir hom gevoel het asof hy daar nie "vreeslik nodig" was nie. Dit was vir hom en sy vrou 'n teleurstellende sameloop van omstandighede, maar hy is lank genoeg gespaar om dekades later te beleef hoe die Kerk die lig sien.

Verdere bediening

Olivier en sy gesin verhuis dieselfde jaar na die destydse Suid-Rhodesië waar hy leraar van die NG gemeente Bulawayo-Noord word. In sy dienstyd is 'n nuwe orrel ingewy. In 1972 word Wankie ook deel van sy arbeidsveld en kort daarna beleef die gemeente die Wankie-mynramp.

In 1973 vertrek die Olivier-gesin na die NG gemeente Philippolis in die Vrystaat. Op 1 Augustus 1976 aanvaar Olivier 'n betrekking by die Bybelgenootskap van Suid-Afrika in Kaapstad as hoofsekretaris van publikasies en verspreiding.

Aftrede

Hy tree af op 30 Junie 1983 en hy en sy vrou gaan woon in Plumstead in die suidelike voorstede van Kaapstad. Na sy aftrede het hy 'n tyd lank deeltyds vir die Bybelgenootskap gewerk, veral aan die nuwe Afrikaanse Bybelvertaling. Hy het proeflees- en vertaalwerk gedoen. Uit sy pen het altesaam 15 publikasies verskyn, waarvan Ons gemeentelike feesalbum sekerlik die bekendste is.

In 1984 verhuis die egpaar na Gansbaai en in 1993 na Melkbosstrand. In 1999 kry hy 'n beroerte en sterf op 26 Augustus 2008. Sy troosdiens is waargeneem deur ds. Francois Hanekom van die NG gemeente Bloubergstrand.

Persoonlike lewe

Olivier is op 10 Maart 1945 met Petro Verster getroud. Hulle het twee dogters, Marietjie en Christine, gehad en met sy afsterwe was daar vier kleinkinders. Sy suster was die Afrikaanse skrywer en vertaler Elizabeth Weber.

Pennevrug

  • 1942Kom droom met my . . . Nasionale Pers Beperk. 291 bladsye.
  • 1946Nuwe wyn. Unieboekhandel. 222 bladsye.[1]
  • 1951 – Offer. Nasionale Boekhandel. 228 bladsye.
  • 1952Wie is wie in ons sendingvelde. N.G. Kerk-Uitgewers van S.A. 188 bladsye.[2]
  • 1952 – Ons gemeentelike feesalbum. N.G. Kerk-Uitgewers. 1952. 608 bladsye.[3]
  • 1956Hier's die bende!. N.G. Kerk-Uitgewers. 125 bladsye.[4][5]
  • Datum onbekend – Ons kinderboek. Uitgewer onbekend.

Verwysings

Bronne

Eksterne skakels

Wikiwand in your browser!

Seamless Wikipedia browsing. On steroids.

Every time you click a link to Wikipedia, Wiktionary or Wikiquote in your browser's search results, it will show the modern Wikiwand interface.

Wikiwand extension is a five stars, simple, with minimum permission required to keep your browsing private, safe and transparent.