Perm-36
From Wikipedia, the free encyclopedia
Perm-36 was 'n dwangarbeidkolonie in die Sowjetunie naby die dorp Koetsjino,[1] 100 km noordoos van die stad Perm in Rusland. Dit was saam met Perm-35 en Perm-37 deel van 'n driehoek van kampe waarheen onder andere die andersdenkende Natan Sharansky gestuur is en van die nog groter Goelagstelsel van die Sowjetunie, veral in die Stalin-era. Sedert 1972 was die kamp bekend as 'n "strengbehandelingskolonie" vir "buitengewoon gevaarlike staatsmisdadigers", meestal Sowjetse andersdenkendes.[1][2][3]
Die kamp is in 1946 gebou[1] en in Desember 1987 gesluit,[1] en is in 1994 as 'n museum bewaar[2] deur die privaat Russiese menseregte-organisasie Memorial.[4] Dit is die enigste oorblywende voorbeeld van 'n Goelagkamp, deurdat die ander voor die verbrokkeling van die Sowjetunie deur die Sowjetregering verlaat of vernietig is.[1]
Die museum het 'n afname van steun en geld beleef totdat dit in April 2014 moes toemaak, toe dit sowat 35 000 besoekers per jaar ontvang het.[2]. In 'n tyd van hernude gewildheid en nostalgie in Rusland vir die Sowjetunie en patriotisme vanweë die Krimkrisis, beskou baie dit as 'n georganiseerde veldtog teen die museum. Russiese media en sommige nasionalistiese organisasies het die museum begin beskryf 'n vyfde kolonne.[5]