![cover image](https://wikiwandv2-19431.kxcdn.com/_next/image?url=https://upload.wikimedia.org/wikipedia/commons/thumb/0/0e/Nowa_huta_kobatant%25C3%25B3w.jpg/640px-Nowa_huta_kobatant%25C3%25B3w.jpg&w=640&q=50)
Nowa Huta
From Wikipedia, the free encyclopedia
Nowa Huta ['nɔva 'xuta] is die mees oostelike stadsdistrik van Krakow, Pole. Dit is in 1949 saam met 'n ysteraanleg volgens 'n dekreet van Sowjet-leier Josef Stalin gestig.[1]
![Thumb image](http://upload.wikimedia.org/wikipedia/commons/thumb/0/0e/Nowa_huta_kobatant%C3%B3w.jpg/640px-Nowa_huta_kobatant%C3%B3w.jpg)
![Thumb image](http://upload.wikimedia.org/wikipedia/commons/thumb/1/1c/R%C3%B3%C5%BC_%28Roses%29_Avenue_%282024%29%2C_Nowa_Huta%2C_Krak%C3%B3w%2C_Poland.jpg/640px-R%C3%B3%C5%BC_%28Roses%29_Avenue_%282024%29%2C_Nowa_Huta%2C_Krak%C3%B3w%2C_Poland.jpg)
![Thumb image](http://upload.wikimedia.org/wikipedia/commons/thumb/7/74/Nowa-huta-osiedle-szkolne-brama.jpg/640px-Nowa-huta-osiedle-szkolne-brama.jpg)
Die planne vir die bou van Nowa Huta is reeds voor die inlywing van Pole by die Sowjet-invloedsfeer ontwikkel, maar oorspronklik sou die nuwe nywerheidstad nader by Silesië met sy steenkoolvelde aangelê word. Vanweë die goed ontwikkelde infrastruktuur met pad- en spoorverbindings na Oekraïne en ander dele van die destydse Sowjetunie is uiteindelik 'n gebied net oos van Krakow gekies. Die Raad vir Wedersydse Ekonomiese Bystand (RWEB, Engels: COMECON) as handelsorganisasie van die Oosbloklande het fondse ter waarde van 450 miljoen VSA-$ vir dié projek beskikbaar gestel.[2] Na Nowa Huta is vervolgens deur die Sowjet-propaganda as 'n "geskenk van Rusland vir die Poolse volk" verwys.
Die bou van 'n nuwe stad met 'n beplande bevolking van 220 000 digby Krakow sou volgens die kommunistiese magshebbers ook politieke doelwitte vervul - Krakow was juis 'n vesting van die Rooms-Katolieke en behoudende burgerdom wat afwysend teenoor die nuwe kommunistiese bedeling gestaan het - en dit selfs in 'n referendum met 'n groot meerderheid stemme afgekeur het. Nowa Huta, wat volgens sosialistiese beginsels van stadsbeplanning ontwerp is, sou as 'n stad van die werkersklas 'n teengewig teen Krakow vorm.
Ondanks die kommunisties-stalinistiese ideologie agter die stadsuitleg is Nowa Huta in ooreenstemming met 'n histories-burgerlike voorloper, die absolutistiese "gansvoetpatroon" (Frans: patte d'oie) met sy vorstelik-representatiewe karakter aangelê - met vyf hooflane wat vanuit 'n sentrale plein loop. In vergelyking met latere sosialistiese bouprojekte, wat met voorafvervaardigde eenhede opgerig is, was die gehalte van Nowa Huta se vroeë boufase relatief hoog. Daar is selfs sekere ooreenkomste met die sogenaamde Gemeindebau van "Rooi Wene" in die tyd tussen die twee wêreldoorloë en die neoklassisisme van die 1930's.
Ironies genoeg sou die werkersklas van Nowa Huta nie aan die kommunistiese bewind se verwagtinge voldoen nie. Hulle was net soos die burgerdom aktief betrokke by die omverwerping van die politieke stelsel. Nogtans het Nowa Huta se "Lenin-staalfabriek" (ná die politieke omwenteling hernoem tot "Sendzimir") met sy lugbesoedeling ernstige skade aan Krakow se historiese monumente berokken. Andersyds is die historiese middestad van Krakow danksy die bestaan van Nowa Huta nooit deur sosialistiese bouprojekte geraak nie. Die staal- en ysterproduksie is ná die val van die kommunistiese bewind drasties verminder en het duisendes werkloos gelaat.
Sekere sosiale konflikte tussen Krakow met sy meer intellektuele karakter en die werkersklas-bevolking van Nowa Huta bestaan steeds. Ondanks die goeie infrastruktuur met paaie en openbare vervoergeriewe ry 'n bewoner van Nowa Huta gemiddeld slegs twee keer na die historiese Krakowse stadsgebied wes van Nowa Huta. Aangesien die nuwe werkersbuurt as 'n selfstandige stad ontwerp is, beskik dit oor alle geriewe.