Die NG gemeente Bothaville is 'n gemeente in die Vrystaatse Sinode van die Nederduitse Gereformeerde Kerk met sy middelpunt op die dorp Bothaville. Dit is die moedergemeente van die dorp. Bothaville-Noord het in 1960 afgestig en Meyerhof in 1975. In 2014 het Bothaville 108 doop en 392 belydende lidmate gehad (vergeleke met 273 en 689 in 1985), Bothaville-Noord 191 en 553 (317 en 697 in 1985) en Meyerhof 94 en 404 (397 en 810 in 1985). In 1960, kort voor die Noord-gemeente se afstigting, het die moedergemeente 1600 belydende en 1000 dooplidmate gehad, 251 meer as die drie gemeentes se totaal in 2014. Die kindertal het met 607 afgeneem.