NG gemeente Berea
From Wikipedia, the free encyclopedia
Die NG gemeente Berea is 'n klein gemeente van die Nederduitse Gereformeerde Kerk in die provinsie en Sinode van KwaZulu-Natal wat in 2015 68 belydende lidmate en een dooplidmaat gehad het. Volgens die NGK Jaarboek van 2021 was daar toe 63 belydende en geen dooplidmate nie. Met sy stigting op 17 Julie 1945 saam met die NG gemeente Port Natal was dit die eerste en enige geval dat twee gemeentes gelyktydig in die Tuinprovinsie afgestig is, en wel van die moedergemeente Durban. Dit is ook een van net enkele NG gemeentes wat twee maal gestig is, want nadat dit in 1992 met Port Natal en Glenwood saamgesmelt het, is Berea in 1997 opnuut as selfstandige gemeente gestig, 52 jaar ná sy oorspronklike stigting.