Mount Shasta
From Wikipedia, the free encyclopedia
From Wikipedia, the free encyclopedia
Mount Shasta is 'n potensieel aktiewe stratovulkaan in Noord-Kalifornië – die tweede hoogste in die Verenigde State – en die tweede hoogste bergpiek in die Kaskade-bergreeks, asook die vyfde hoogste in Kalifornië, op 'n hoogte van 4 322 meter bo seevlak. Die piek is bedek met vyf gletsers, waaronder die Whitney-gletser, die grootste in die deelstaat.
Mount Shasta | |
---|---|
Ligging | Kalifornië, Verenigde State |
Hoogte | 4 322 meter bo seevlak |
Reeks | Kaskadereeks |
Koördinate | 41°24′33.11″N 122°11′41.60″W |
Laaste uitbarsting | 1786 |
Eerste bestyging | 1854 |
Eerste bestyger(s) | E.D. Pearce |
Maklikste roete | Rotsklim/sneeu |
Die vulkaan lê in Siskiyou County en het 'n volume van 450 km³. Mount Shasta is nie met enige ander nabygeleë berg verbind nie en verrys sowat 3 000 meter bo-oor die omliggende vlakte. Dit kan maklik raakgesien word vanaf die meeste plekke in die noorde van Kalifornië.[1]
Die Eerste Nasies van die omgewing, die Klamath en Modoc, het beweer dat die vulkaan, wat vir die laaste keer in 1786 uitgebars het, die "Groot Gees" of gees van die hoof Skell huisves, wat uit die paradys na Mount Shasta gekom het. Setlaars het later alle soorte magiese kragte aan die berg toegeskryf.
Mount Shasta het ook danksy sy majestueuse voorkoms met 'n sneeubedekte spits en pragtige natuurskoon 'n soort spirituele en esoteriese sentrum in Noord-Kalifornië geword, waar 'n groot aantal religieuse groepe hulle gevestig het. Houn Jiyu-Kennett het hier in 1971 die Boeddhistiese klooster Shasta Abbey gestig. Die meerderheid van die religieuse groepe in die omgewing glo dat die vulkaan die tuiste van bonatuurlike wesens is, terwyl ander beweer dat ruimtewesens die berg met vlieënde pierings kom besoek. Hierdie oortuigings het hulle oorsaak moontlik in 'n meteorologiese fenomeen – die kenmerkende wolkformasies oor die berg lyk dikwels soos vlieënde pierings.
Die digter Joaquin Miller (1837−1913), na wie dikwels as die Poet of the Sierras verwys word, het Mount Shasta op 'n heuglike manier beskryf: “Alleen soos God, en wit soos die wintermaan, verrys Mount Shasta onverwags en eensaam uit die hart van die groot swart woude van Noord-Kalifornië.”
Die berg se hoofpiek bestaan uit vier kegels, met 'n kleiner newespits, Shastina (3 749 meter). Shastina het eweneens 'n duidelik koniese vorm. Die oppervlak van Shasta wys geen glasiale erosie nie, behalwe vir die suidelike kant, waar die Sergeantsrand langs die U-vormige Lawinekloof (Engels: Avalanche Gulch) loop. Dit is die grootste glasiale vallei op die vulkaan, alhoewel daarin tans geen gletser meer bestaan nie. Mount Shasta se vyf klein gletsers lê teen die noordelike kant van die vulkaan.
Daar is baie spore van gletsers op die berg, wat oorspronklik gedurende die ystydperke van die teenswoordige Wisconsin-vergletsering ontstaan het. Die meeste van hulle is intussen deur andesiet-lawa, piroklastiese strome en rolstene uit die lawakoepels opgevul. Daarenteen beskik Shastina nog oor 'n ongeskonde spitskrater, wat daarop dui dat daardie newespits ná die laaste ystydperk gevorm het.
In die afgelope 10 000 jaar het Mount Shasta gemiddeld elke 800 jaar uitgebars, maar in die laaste 4 500 jaar het daar gemiddeld elke 600 jaar 'n uitbarsting voorgekom. Mount Shasta se laaste groot uitbarsting het tweehonderd jaar gelede plaasgevind.
Die berg kan vulkaniese as, piroklastiese strome of dasiet- en andesiet-lawa vrystel. Sy afsettings kan onder die nabygeleë nedersettings ontdek word. Mount Shasta het in die verlede al verskeie kere verwoestende uitbarstings veroorsaak. Die fumaroles op die berg getuig daarvan dat Mount Shasta nog steeds aktief is.
Seamless Wikipedia browsing. On steroids.
Every time you click a link to Wikipedia, Wiktionary or Wikiquote in your browser's search results, it will show the modern Wikiwand interface.
Wikiwand extension is a five stars, simple, with minimum permission required to keep your browsing private, safe and transparent.