From Wikipedia, the free encyclopedia
Menslikepapilloomvirus-infeksie is ’n infeksie deur die menslike papilloomvirus (MPV).[1]
Menslike papilloomvirus | |
---|---|
Wetenskaplike klassifikasie | |
Orde: | nie toegeken |
Familie: | Papillomaviridae |
Genera | |
Alfapapilloomvirus |
Die meeste MPV-infeksies veroorsaak geen simptome nie en klaar spontaan op.[2] In sommige gevalle kan hulle vratte of voorkankerletsels veroorsaak.[3] Laasgenoemde verhoog die risiko vir kanker van die serviks, vulva, vagina, penis, anus, mond en keel.[2][3]
Byna alle gevalle van servikale kanker is te wyte aan MPV, met twee tipes – MPV16 en MPV18 – wat verantwoordelik is vir 70 persent van gevalle.[2][4] Tussen 60 en 90 persent van die ander bogenoemde kankers word ook met MPV verbind.[4] MPV6 en MPV11 is ’n algemene oorsaak van genitale vratte en laringeale papillomatosis.[2]
Die menslike papilloomvirus is ’n DNS-virus van die familie Papillomaviridae, waarvan meer as 150 soorte bekend is.[1][5] Meer as 40 soorte word deur seksuele kontak oorgedra en tas die anus en geslagdsele aan.[5]
Risikofaktore vir hardnekkige MPV-infeksies sluit in eerste seksuele kontak op ’n vroeë ouderdom, veelvuldige seksmaats, rook en ’n swak immuunstelsel.[2] MPV word meestal versprei deur volgehoue velkontak met die vagina of anus.[5] ’n Ma kan dit ook soms aan haar ongebore kind oordra.[6] Dit kan nie deur byvoorbeeld toiletsitplekke versprei word nie.[6] Iemand kan deur meer as een soort MPV besmet word.[6] Die virus tas net mense aan.[1]
Inenting kan die meeste algemene soorte infeksie voorkom.[5] Dit moet dus voor infeksie toegedien word en daarom is die aanbevole ouderdom tussen 9 en 13 jaar.[2]
’n Servikale ondersoek, soos met ’n Papsmeer, kan vroeë tekens van kanker opspoor.[2] In so ’n geval is vroegtydige behandeling moontlik en die resultate beter.[2] Servikale ondersoeke het die getal infeksies en sterftes weens servikale kanker in die ontwikkelde wêreld laat afneem.[7] Vratte kan met vriesing verwyder word.[1]
MPV is wêreldwyd die mees algemene seksueel oordraagbare infeksie.[1] Die meeste mense word die een of ander tyd in hul lewe daardeur geraak.[5] In 2012 was daar wêreldwyd sowat 528 000 nuwe gevalle en 266 000 sterftes weens servikale kanker.[8] Sowat 85% hiervan het in die ontwikkelende wêreld voorgekom.[2]
Sowat 1 persent van seksueel aktiewe volwassenes het genitale vratte.[6] Hoewel gevalle van vratte sedert die tyd van Antieke Griekeland aangeteken is, is hul virale aard eers in 1907 ontdek.[9]
Seamless Wikipedia browsing. On steroids.
Every time you click a link to Wikipedia, Wiktionary or Wikiquote in your browser's search results, it will show the modern Wikiwand interface.
Wikiwand extension is a five stars, simple, with minimum permission required to keep your browsing private, safe and transparent.