Meiose of reduksiedeling[1] is ’n gespesialiseerde manier van selverdeling wat die getal chromosome halveer. Dié proses vind plaas in alle geslagtelik voortplantende eukariote (beide een- en meersellig), insluitend diere, plante en swamme.[2][3]
Voor meiose (tydens die interfase) word die DNS van elke chromosoom gerepliseer en homoloë chromosome ruil genetiese inligting uit (chromosomale oorkruising). Daarna vind die eerste verdeling, meiose I, plaas. Die dogterselle verdeel weer in meiose II om haploïede gamete te vorm. Manlike en vroulike gamete versmelt tydens bevrugting en vorm ’n diploïede sel met ’n volle stel chromosome.