![cover image](https://wikiwandv2-19431.kxcdn.com/_next/image?url=https://upload.wikimedia.org/wikipedia/commons/thumb/f/f4/Lobo_en_el_Zoo_de_Madrid_01_cropped.jpg/640px-Lobo_en_el_Zoo_de_Madrid_01_cropped.jpg&w=640&q=50)
Lys van wolfbevolkings per land
Wikimedia lysartikel / From Wikipedia, the free encyclopedia
Hoewel die wolf vroeër talryk in Noord-Amerika en Eurasië voorgekom het, kom hy nou in ’n kleiner gedeelte van sy voormalige grondgebied voor weens die wydverspreide habitatvernietiging, die mens se indringing van sy habitat, asook die gevolglike wolf tot mens skermutselings, wat op verdelging uitloop. Tog word die wolf, alles in ag genome, volgens die Internasionale Unie vir die Bewaring van die Natuur as ’n diersoort beskou oor wie se uitsterwing die minste oor bekommerd hoef te wees. Wolwe word vandag in party gebiede beskerm, vir ontspanning gejag of staar uitwissing as ’n bedreiging vir die mens, vee en troeteldiere in die gesig.
Die wolf pas baie moeilik by verandering aan en word daarom dikwels as ’n “aanduiderdier” beskou; dit is ’n spesie wie se bevolkingsafname in ’n ekostelsel mag dui op ’n sekere omgewingstoestand, soos ’n uitbreek van siekte, besoedeling, mededinging met ander diersoorte, of klimaatsverandering. Dit blyk dat wolwe nie so maklik by die stedelike uitbreiding aanpas soos prêriewolwe (coyotes) nie. Terwyl die verstedeliking daartoe lei dat laasgenoemde se bevolkingsgetalle styg, gebeur net mooi die teenoorgestelde met die eersgenoemde s’n.[1]