Kultuur van die Faroëreilande
From Wikipedia, the free encyclopedia
Die kultuur van die Faroëreilande is gegrond op die Nordiese kultuur. Die Faroëreilande was lank van groot kulturele fases en stromings van Europa afgesny. Dit beteken dat hulle 'n groot deel van hul tradisionele kultuur behou het. Die gesproke taal is Faroëes. Dit is een uit drie Skandinawiese eilandtale wat uit gesproke Oudnoors in Skandinawië uit die Wikingtydperk spruit. Die ander twee is Yslands en die uitgestorwe Norn, wat na bewering verstaanbaar was met Faroëes. Tot met die 15de eeu het Faroëes 'n soortgelyke ortografie as Yslands en Noors gehad, maar na die Hervorming in 1538 het die Deense heerskappy die taal uit die skole, kerke en amptelike dokumente geweer. Die taal het 'n ryke gesproke tradisie behou, maar vir 300 jaar is die taal nie neergeskrywe nie. Gedigte, sprokies en stories is dus mondelings oorgedra. Hierdie werke kan verdeel word in: sagnir (geskiedkundig), ævintyr (stories) and kvæði (ballades), wat dikwels getoonset is tot musiek en die middeleeuse kettingdanse. Dit is uiteindelik in die 19de eeu meestal deur Deense akademici neergepen.