Krieketwêreldbeker 1996
From Wikipedia, the free encyclopedia
Die Krieketwêreldbeker 1996 (Engels: 1996 Cricket World Cup; Hindi: १९९६ क्रिकेट विश्व कप; Singalees: 1996 ක්රිකට් ලෝක කුසලානය; Tamil: 1996 துடுப்பாட்ட உலகக்கிண்ணம்; Oerdoe: کرکٹ عالمی کپ 1996ء) is van 14 Februarie tot 17 Maart 1996 in Indië, Pakistan en Sri Lanka beslis. Dit was die sesde krieketwêreldbeker van die vierjaarlikse krieketwêreldkampioenskap in internasionale eendagkrieket (EDI) wat deur die Internasionale Krieketraad (IKR) aangebied word en die tweede op die Indiese subkontinent. Indië en Pakistan het voorheen die 1987-toernooi gesamentlik gehuisves. Die Krieketwêreldbeker 1996 is deur die Indiese konglomeraatmaatskappy ITC Beperk geborg en staan dus amptelik bekend as die Wills Wêreldbeker 1996, genoem na dié maatskappy se sigarethandelsmerk Wills Navy Cut.
Kenteken van die Krieketwêreldbeker 1996 | |
Datums | 14 Februarie – 17 Maart |
---|---|
Bestuurder | Internasionale Krieketraad (IKR) |
Krieketformaat | Internasionale eendagkrieket (EDI) |
Toernooiformaat | Groep- en uitklopfase |
Gashere | Indië Pakistan Sri Lanka |
Kampioen | Sri Lanka (1ste titel) |
Naaswenner | Australië |
Deelnemers | 12 (32 kwalifiseer) |
Wedstryde gespeel | 37 |
Speler van die reeks | Sanath Jayasuriya |
Meeste lopies | Sachin Tendulkar (523)[1] |
Meeste paaltjies | Anil Kumble (15)[2] |
← 1992 1999 → |
Twaalf nasionale krieketspanne het aan die Krieketwêreldbeker 1996 deelgeneem: Die destydse nege toetskrieketlande (Australië, Engeland, Indië, Nieu-Seeland, Pakistan, Sri Lanka, Suid-Afrika, Wes-Indië en Zimbabwe), saam met die drie beste spanne van die IKK-trofee 1994 (Kenia, Nederland en die Verenigde Arabiese Emirate). Tydens die Krieketwêreldbeker 1996 is 37 wedstryde gespeel, waaronder 30 tydens die groepfase en sewe in die uitklopfase, insluitende die eindstryd. Die spanne is in twee groepe van ses elk verdeel, waarvan elke span een keer teen al die ander spanne in die groep gespeel het. Die vier beste spanne van elke groep het hierna vir die kwarteindrondte gekwalifiseer. Elke wedstryd het uit 50 boulbeurte per span bestaan.[3]
Die toernooi is reeds voor die begin deur kontroverse geteister aangesien die spele in Sri Lanka tydens die burgeroorlog in dié land aangebied sou word. Die spanne van Australië en Wes-Indië het ná die Tamil Tigers se bomaanslag op die Sentrale Bank in Colombo in Januarie 1996 geweier om in Sri Lanka teen dié land se nasionale krieketspan te speel. Ná uitgebreide onderhandelinge het die Internasionale Krieketraad beslis dat albei wedstryde weens verbeuring aan Sri Lanka toegeken sal word. As gevolg van hierdie besluit het Sri Lanka regstreeks vir die kwarteindrondte gekwalifiseer voordat hulle hoegenaamd ’n wedstryd gespeel het.[4]
Sri Lanka het die eindstryd op Gaddafistadion in Lahore teen Australië met sewe paaltjies gewen en sodoende sy eerste titel ingepalm. Indië en Wes-Indië was die ander twee semi-finaliste. Die verdedigende kampioen en medegasheer Pakistan is in die halfeindstryd te Bangalore deur die aartsvyand Indië met 39 lopies geklop. Suid-Afrika het sy kwarteindstryd te Karatsji teen Wes-Indië met 19 lopies verloor. Die nasionale krieketspanne van Kenia, Nederland en die Verenigde Arabiese Emirate het vir die eerste keer aan ’n krieketwêreldbekertoernooi deelgeneem.