Krieketwêreldbeker 1975
From Wikipedia, the free encyclopedia
Die Krieketwêreldbeker 1975 (Engels: 1975 Cricket World Cup) is van 7 tot 21 Junie 1975 in Engeland beslis. Dit was die eerste krieketwêreldbeker van die vierjaarlikse krieketwêreldkampioenskap in internasionale eendagkrieket (EDI) wat deur die Internasionale Krieketkonferensie (IKK; nou Internasionale Krieketraad, IKR) aangebied word. Die Krieketwêreldbeker 1975 is deur die Britse finansiële en versekeringsmaatskappy Prudential plc geborg en staan dus amptelik bekend as die Prudentialbeker 1975.
Kenteken van die Krieketwêreldbeker 1975 | |
Datums | 7 Junie – 21 Junie |
---|---|
Bestuurder | Internasionale Krieketkonferensie (IKK) |
Krieketformaat | Internasionale eendagkrieket (EDI) |
Toernooiformaat | Groep- en uitklopfase |
Gashere | Engeland |
Kampioen | Wes-Indië (1ste titel) |
Naaswenner | Australië |
Deelnemers | 8 |
Wedstryde gespeel | 15 |
Bywoning | 158 000 (10 533 per wedstryd) |
Meeste lopies | Glenn Turner (333)[1] |
Meeste paaltjies | Gary Gilmour (11)[2] |
← Geen 1979 → |
Agt nasionale krieketspanne het aan die Krieketwêreldbeker 1975 deelgeneem: Die destydse ses toetskrieketlande (Australië, Engeland, Indië, Nieu-Seeland, Pakistan en Wes-Indië), saam met die destyds voorste geassosieerde lid Sri Lanka en, vir die enigste keer, Oos-Afrika. Vir die Oos-Afrikaanse span is krieketspelers uit die lande Kenia, Tanzanië, Uganda en Zambië genooi. Suid-Afrika kon nie aan die krieketwêreldbeker deelneem nie as gevolg van ’n sportboikot teen dié land weens sy voortgesette apartheidsbeleid.
Tydens die Krieketwêreldbeker 1975 is 15 wedstryde gespeel, waaronder twaalf tydens die groepfase en drie in die uitklopfase, insluitende die eindstryd. Die spanne is in twee groepe van vier elk verdeel, waarvan elke span een keer teen al die ander spanne in die groep gespeel het. Die twee beste spanne van elke groep het hierna vir die halfeindrondte gekwalifiseer en die wenners het mekaar in die eindstryd ontmoet. Elke wedstryd het uit 60 boulbeurte per span bestaan en is in tradisionele wit klere en met rooi balle gespeel; almal is bedags gespeel en het dus vroeg in die oggend begin.[3]
Die konsep van eendagkrieket was nog in die vroeë stadiums en tussen 1971 en 1975 is net 18 sulke wedstryde tussen die toetslande gespeel.[4] Interessant genoeg is die Vrouekrieketwêreldbeker twee jaar vroeër, in 1973, aangebied.[5]
Engeland, Nieu-Seeland, Wes-Indië en Australië het vir die halfeindrondte gekwalifiseer en dit was tot dusver die enigste krieketwêreldbeker, waartydens geen span van die Indiese subkontinent vir die uitklopfase gekwalifiseer het nie. Australië het Engeland en Wes-Indië het Nieu-Seeland geklop, voordat Wes-Indië – die gunsteling vóór dié toernooi – Australië in die eindstryd op Lord’s in Londen met 17 lopies verslaan en sodoende die eerste krieketwêreldkampioen geword het.
Die openingswedstryd van die toernooi is gekenmerk deur een van die mees bisarre kolfpogings in die eendaggeskiedenis, dié van die Indiese Sunil Gavaskar. Nadat Engeland 334/4 aangeteken het, met Dennis Amiss wat 137 lopies gemoker het, het Gavaskar die volle 60 boulbeurte deurgekolf vir ’n skamele 36 lopies (nie uit nie), wat verskeie voorvalle van ongelukkige Indiese aanhangers tot gevolg gehad het.[6]