From Wikipedia, the free encyclopedia
Die Klein Donker Vlek, soms genoem Donker Vlek 2 of Die Towenaar se oog, was ’n werwelstorm op Neptunus.[1][2] Dit was die tweede grootste storm in Neptunus se suidelike halfrond in 1989, toe Voyager 2 verby die planeet gevlieg het. Toe die Hubble-ruimteteleskoop in 1994 op Neptunus gerig is, het die vlek verdwyn.[3]
Die Klein Donker Vlek, Bromponie (’n vinnig bewegende wit wolk) en Groot Donker Vlek is in 1989 deur Voyager 2 ontdek. Die Klein Donker Vlek het in die suidelike halfrond oos om Neptunus beweeg met ’n periode van 16,1 uur.[4] Terwyl die Groot Donker Vlek die vinnigste winde gehad het wat nog in die Sonnestelsel aangeteken is, is die Klein Donker Vlek se windsnelhede nie gemeet nie.[5] Die klein vlek het ook, anders as die groot vlek, nie meegaande wit wolke gehad nie. Toe Nasa Neptunus in 1994 deur Hubble bestudeer, was albei vlekke weg.[3]
Die bynaam "Towenaar se Oog" kom van die treffende, oogagtige voorkoms van die vlek.[6] Die Klein Donker Vlek was kleiner as die groot vlek en het verder suid om die planeet gedraai met ’n periode van twee uur korter.[4]
Die donker ovaal van die storm wat die buitekant van die oogagtige struktuur uitgemaak het, is gevorm deur ’n werwelstorm wat kloksgewys beweeg en atmosfeer binnewaarts na die planeet se middel ingesuig het.[5] Dit het ’n gat in die boonste metaanwolkkombers gevorm en die storm se donkerder blou kleur veroorsaak.[7] Stroke in die donker deel was dalk onsigbare, vinnige winde, maar die snelhede is nie gemeet nie.[5]
Die helder binneste deel van die "oog" is gevorm deur wit metaanyswolke wat van die middel van die storm opgewel het.[6] Binne die chaos van hierdie middelste wolke was ’n paar groter strukture, insluitende ’n V-vorm aan die oostekant, wat vermoedelik daarop dui dat die storm kloksgewys roteer het.[5] Dié wolke het bestaan uit dieselfde metaanys as soortgelyke "meegaande wolke" wat naby die planeet se groter storms waargeneem is; die Klein Donker Vlek het egter nie in 1989 of 1994 sulke meegaande wolke gehad nie.[3]
Ná Voyager 2 se verbyvlug in 1989 is die planeet eers weer in 1994 deur Hubble in hoë resolusie waargeneem. Toe was albei storms weg. Die storm wat die Groot Donker Vlek veroorsaak het, was dalk nog op ’n laer hoogte teenwoordig omdat daar steeds wit meegaande wolke in die streek was.[8] Terwyl werwelstorms vermoedelik verdwyn wanneer hulle nader aan Neptunus se ewenaar beweeg, waar lugstrome van 400 meter per sekonde voorkom, kan ander, onbekende meganismes in Neptunus se atmosfeer ook ’n einde aan die storms bring.[6]
Seamless Wikipedia browsing. On steroids.
Every time you click a link to Wikipedia, Wiktionary or Wikiquote in your browser's search results, it will show the modern Wikiwand interface.
Wikiwand extension is a five stars, simple, with minimum permission required to keep your browsing private, safe and transparent.