Kernavė
From Wikipedia, the free encyclopedia
Kernavė is 'n Litause dorp aan die Neris-rivier, sowat 35 kilometer noordwes van die hoofstad, Vilnius, in die ooste van die land geleë. Alhoewel die dorp deesdae minder as 300 inwoners het, het dit 'n belangrike rol in die Litause geskiedenis gespeel. Kernavė is die oudste bekende hoofstad van Litaue, tog strek sy geskiedenis veel verder terug. Argeologiese opgrawings het vondste blootgelê wat 'n verhaal van mense vertel wat hierdie gebied oor 'n tydperk van 11 000 jaar ononderbroke bewoon het.
Argeologiese terrein Kernavė (Kultuurreservaat van Kernavė)* | |
---|---|
Unesco-wêrelderfenisterrein | |
Een van die heuwelvestings. | |
Posisie van Kernavė in Litaue | |
Koördinate: 54.88°N 24.85°O / 54.88; 24.85 | |
Lande | Litaue |
Tipe | Kultureel |
Kriteria | iii, iv |
Verwysings | 1137 |
Streek† | Europa |
Inskripsiegeskiedenis | |
Inskripsie | 2004 (28ste Sessie) |
* Naam soos dit in die Wêrelderfenislys verskyn. † Streek soos deur Unesco geklassifiseer. |
Die Lyflandse kroniek uit die jaar 1279 bevat die oudste historiese verwysing na Kernavė se vyf versterkte heuwels – dit word as die setel van grootvors Traidenis beskryf sodat Kernavė nog voor Trakai en Vilnius as die oudste hoofstad van Litaue beskou word. Die grootste van hierdie heuwels, die "Troon van Mindaugas", was volgens oorlewerings die setel van die legendariese koning Mindaugas wat hier op 6 Julie 1253 gekroon is,[1] terwyl die heidense Litauers op die "Offerberg" hul offerrituele gehou het.
Nadat die Baltiese volke eers in die 13de eeu met geweld gekersten is, het die laaste heidense opperpriester die "Berg van Lizdeika" as toevlugsoord vir die "heilige jonkvroue" en die "heilige vuur" gebruik. Lizdeika was die bynaam van Litause opperpriesters. Tussen die heuwels is oorblyfsels van 'n nedersetting opgegrawe wat tussen die 3de en 4de eeu n.C. ontstaan het.
Gedurende die Middeleeue was Kernavė 'n belangrike feodale nedersetting. Die laer geleë dele daarvan is in die laat 14de eeu deur kruisridders van die Duitse Orde vernietig, en die bewoners het hulle vervolgens na die heuwelvestings teruggetrek.
Die argeologiese terrein van Kernavė met 'n oppervlakte van 194,4 hektaar behels die dorp, vestings, 'n aantal onversterkte nedersettings, begraafplase en ander argeologiese, geskiedkundige en kulturele monumente uit 'n periode wat van die laat Steentydperk tot die Middeleeue strek. Die kultuurreservaat van Kernavė, waarin die oorblyfsels van vyf indrukwekkende heuwelvestings as deel van 'n vroeë verdedigingstelsel bewaar gebly het, is in 2004 deur Unesco tot wêrelderfenisgebied verklaar. Alle argeologiese vondste word in die plaaslike museum bewaar.