Kepler-voorwerp van belang
From Wikipedia, the free encyclopedia
’n Kepler-voorwerp van belang of KOI (van die Engelse Kepler Object of Interest) is ’n ster wat deur die Kepler-ruimteteleskoop dopgehou word en moontlik een of meer eksoplanete het wat voor die ster verbybeweeg. Daar is ’n lys van 150 000 KOI's wat deur sterrekundiges geteiken is om dop te hou. Dié sterre is weer deel van ’n katalogus van al 13,2 miljoen sterre in Kepler se sigveld, die Kepler Input Catalog (KIC). ’n KOI ondergaan ’n periodieke verdowwing, wat dui op ’n onsigbare planeet wat tussen die ster en die Aarde verbybeweeg en dus ’n deel van die ster verduister. So ’n verdowwing is nie ’n aanduiding dat daar wel ’n eksoplaneet is nie omdat dit ook deur ander verskynsels veroorsaak kan word, soos ’n dubbelster op die agtergrond. Dus is die meeste KOI's nog nie bevestigde planeetstelsels nie.