Goedendag (wapen)
From Wikipedia, the free encyclopedia
'n Goedendag (Nederlands vir "goeiedag"; ook gespel godendac, godendard, godendart, en soms verwar met die naverwante plançon) was 'n wapen wat oorspronklik deur die burgermagte van Middeleeuse Vlaandere in die 14de eeu gebruik is, veral tydens die Frans-Vlaamse Oorlog. Die goedendag was in wese 'n kombinasie van 'n knuppel met 'n spies. Die liggaam van die wapen het bestaan uit 'n houtstaf of -stok van ongeveer 92 tot 150 cm lank, met 'n deursnee van ongeveer 5 tot 10 cm. Dit was wyer aan die een kant, en aan hierdie kant is 'n skerp metaalpen ingesit.[1]
Die wapen is met groot sukses teen Franse ridders gebruik tydens die Slag van die Goue Spore naby Kortrijk op 11 Julie 1302, veral teen aanstormende ruiters. Die goedendag word gereeld in die hande van Vlaamse burgermagte uitgebeeld in kontemporêre uitbeeldings, soos die houtsneewerk op die 14de eeuse Kortrijk-kis (Oxford-kis). Dit kan ook gesien word op 'n fresko van die Leugemeete in Gent. In die nawoord van sy boek, Om het land te beschermen, vermeld die Vlaamse historikus en skrywer van jeugboeke, Johan Ballegeer, dat die wapen moontlik afkomstig is van die More. Die gebruik sou dan deur die Franse ridderorde (tempeliers) aangeneem word, wat weer deur die Vlaminge aangeleer is.