From Wikipedia, the free encyclopedia
’n Genoom is die genetiese materiaal van ’n organisme. Dit bestaan uit die DNS (of RNS in RNS-virusse) en sluit beide die gene (die koderingstreke) en die niekoderings-DNS in,[1] sowel as die genetiese materiaal van die mitochondria[2] en chloroplaste.
’n Genoom is al die genetiese inligting van ’n organisme. Die menslike genoom kan vergelyk word met die aanwysings in ’n resepteboek. Nes laasgenoemde die aanwysings verskaf wat nodig is om ’n reeks geregte te maak, insluitende ’n vakansiefeesmaal of somerpiekniek, bevat die menslike genoom al die aanwysings wat nodig is om die hele reeks menslike selle te maak, insluitende die spierselle of neurone.
’n Genoomvolgorde is die volledige lys van die nukleotiede (A, C, G en T vir DNS-genome) wat al die chromosome van ’n individu of spesie uitmaak. Binne ’n spesies is die oorgrote meerderheid nukleotiede identies tussen die individue, maar die volgordebepaling van verskeie individue is nodig om die genetiese diversiteit te verstaan.
Die eerste volledige nukleotiedvolgorde van ’n virale RNS-genoom is in 1976 bepaal. Die volgende jaar is die eerste DNS-genoom se volgorde bepaal.[4] Die eerste volledige genoomvolgordebepaling onder al drie domeins van die lewe is in die middel 1990's kort na mekaar vrygestel. Die eerste bakteriese genoom waarvan die volgorde bepaal is, was dié van Haemophilus influenzae, in 1995. ’n Paar maande later is die eerste eukariootgenoom voltooi, dié van Saccharomyces cerevisiae. Die eerste genoomvolgorde vir ’n Archaea, Methanococcus jannaschii, is in 1996 voltooi.
Die ontwikkeling van nuwe tegnologie het die volgordebepaling van genome aansienlik goedkoper en makliker gemaak, en die getal voltooide volgordebepalings groei vinnig. Die Amerikaanse nasionale gesondheidsinstitute onderhou een van verskeie omvattende databasisse van genoominligting.[5] Die duisende voltooide bepalingsprojekte van genoomvolgordes sluit in dié van rys, muise en die bakterie E. coli. In Desember 2013 het wetenskaplikes die volgorde van die volledige genoom van ’n Neanderdaller, ’n uitgestorwe spesie, bepaal. Die genoom is onttrek uit die toonbeen van ’n 130 000 jaar oue Neanderdaller wat in ’n Siberiese grot ontdek is.[6][7]
Waar ’n genoomvolgorde die volgorde van elke DNS-basis in ’n genoom lys, identifiseer ’n genoomkaart die landmerke. ’n Genoomkaart bevat minder besonderhede as ’n genoomvolgorde en help met die navigasie om die genoom. Die Menslikegenoomprojek is aangepak om die menslike genoom se volgorde te bepaal en dit te karteer. ’n Basiese stap in die projek was om ’n gedetailleerde genoomkaart uit te reik deur ’n span by die Genoscope in Parys.[8][9]
Seamless Wikipedia browsing. On steroids.
Every time you click a link to Wikipedia, Wiktionary or Wikiquote in your browser's search results, it will show the modern Wikiwand interface.
Wikiwand extension is a five stars, simple, with minimum permission required to keep your browsing private, safe and transparent.