Geallieerdes van die Eerste Wêreldoorlog
From Wikipedia, the free encyclopedia
Die Entente-magte of Geallieerdes van die Eerste Wêreldoorlog (Engels: The Entente Powers / Allies; Frans: Forces de l'Entente / Alliés; Italiaans: Alleati; Portugees: Aliados; Roemeens: Puterile Antantei / Aliații; Russies: Союзники, Soyuzniki; Serwies: Савезници, Saveznici; Spaans: Aliados) is die lande wat tydens die Eerste Wêreldoorlog amptelik teen die Sentrale Moondhede te staan gekom het. Die lidlande van die Drievoudige Entente was Frankryk, die Russiese Ryk en die Verenigde Koninkryk; Italië het in 1915 by die Geallieerdes aangesluit. Japan, België, Serwië, Griekeland, Montenegro, Roemenië en die Tsjeggo-Slowaakse legioene[1] was sekondêre lede van die Entente.[2]
Die Verenigde State het oorlog teen die Duitse Keiserryk verklaar omdat Duitsland die VS-neutraliteit deur aanvalle op die internasionale maritieme verkeer en die Zimmermann-telegram aan Meksiko geskend het.[3] Die VSA het tot die oorlog toegetree as 'n "verenigde mag" eerder as 'n amptelike bondgenoot van Frankryk en die Verenigde Koninkryk, om buitelandse versperrings te vermy.[4] Alhoewel Bulgarye en die Ottomaanse Ryk hul betrekkinge met die VSA verbreek het, het nie een van hulle oorlog verklaar nie.[5]
Alhoewel die Dominions en kroonkolonies van die Britse Ryk noemenswaardige bydraes tot die Geallieerdes se oorlogvoering gemaak het, het hulle tydens die oorlog nie eie onafhanklike buitelandse beleide gehad nie.