Finistère
Franse departement / From Wikipedia, the free encyclopedia
Die département Finistère (Bretons: Penn-ar-Bed) is die mees westelike punt van Frankryk met 'n oppervlakte van 6 733 km² en sowat 855 000 inwoners (2003, waarvan meer as 100 000 mense Bretons – naas Frans – as huistaal praat); die naam is afgelei van die Latynse finis terrae en beteken letterlik "die einde van die wêreld". Die vasteland van Europa eindig hier in 'n asemberowende skouspel van natuurskoon, lig en kleure wat al sedert die 19de eeu skare kunstenaars trek. Alhoewel dit die geografiese einde van Europa vorm, staan Finistère aan die begin van die Bretonse geskiedenis. Dit is die landingsplek van die Keltiese setlaars, wat in die 5de en 6de eeu vanuit Cornwall na die Europese vasteland gekom het. Die naam van hulle oorspronklike tuisland leef voort in Cornouaille, 'n streek in Finistère.
Finistère (29) | |
---|---|
Gewes | Bretagne |
Prefektuur | Quimper |
Onderprefekture | Brest Châteaulin Morlaix |
Bevolking | 852 418 inw. (1999) |
Bevolkingsdigtheid | 127 inw./vk km |
Oppervlakte | 6 733 vk km |
Arrondissemente | 4 |
Kantonne | 54 |
Munisipaliteite | 283 |
President van die Conseil général |
Nathalie Sarrabezolles (PS) |
Die landskap van Finistère is 'n geskakeerde vlakte van velde, heideland en bosgebiede wat geleidelik oorgaan in die Monts d'Arrée, berge wat sowat 400 meter bo seevlak lê. Koue winde in die winter en hitte in die somer maak dit 'n leefruimte vir geharde plantspesies wat veral in die kusstrook in kleiner variante as elders groei om die winde te kan weerstaan. Die natuurreservaat van Armorika bewaar hierdie natuurerfenis.
Megalitiese ruïnes, menhirs en dolmens (Keltiese grafmonumente) wat orals in Finistère te vinde is, maak van die gebied 'n lewende geskiedenisboek. Die argeologiese vondse van plaaslike opgrawings lewer bewys dat hier reeds 6 000 jaar lank menslike nedersettings bestaan. Die mense van Finistère – wat hul brood oorwegend as vissers, boere en ambagsmanne verdien – maak danksy die seehandel vroeg kennis met kunsstyle van dwarsoor die vasteland en begin hulle in die argitektuur van die streek te verwerk. Die enclos paroissial, die parogiale insluiting, is 'n plaaslike kerk wat saam met die knekelhuis en calvaire (kalvarieberg), en soms ook 'n oorvloed van beeldhouwerke, 'n mistieke oorgang na die wêreld van die oorledenes vorm. Hierdie simboliek gaan terug tot keltiese tradisies waarvolgens die dood slegs 'n soort oorgang na 'n ander bestaan is.
Naas die argitektuur en beeldhoukuns is pottebakkery 'n belangrike inheemse kuns, en besoekers moenie versuim om een van die fayenceries in die hoofstad Quimper te besoek nie.
Die skouspel van natuurskoon, lig en kleure lok vroeg in die 19de eeu talle skilders na Finistère. Die beroemde Paul Gauguin het besoek afgelê aan een van die klein hawens, Pont-Aven, en hy begin die tradisie van die Bretonse sujets in die Franse skilderkuns. Volkskundige tonele soos die Bretonse pardons (vergewensfeeste), drag, oes- en landskapsmotiewe oefen 'n sterk invloed op die kuns van die tyd uit. Auguste Renoir is 'n ander beroemde skilder wat na Finistère kom om die poësie van die natuurskoon en die argitektuur in sy skilderye vas te vang.
Kunsgalerye en museums in die streek bied die geleentheid om hierdie kunswerke te bewonder, en daar is 'n skilderroete ingerig wat die belangstellende op die voetspore van die skilders van Cornouaille laat wandel. Soos Douarnenez en Pont-Aven is dit een van die plekke waar kunstenaars gereeld byeengekom het om inspirasie te vind.