Fermi-paradoks
oënskynlike teenstrydigheid tussen die gebrek aan bewyse en hoë waarskynlikheidskattings vir die bestaan van buiteaardse beskawings / From Wikipedia, the free encyclopedia
Die Fermi-paradoks is die oënskynlike teenstelling tussen hoë ramings van die moontlike bestaan van buiteaardse beskawings en die mens se onvermoë om met hulle kontak te maak of bewyse te kry dat hulle bestaan.[1]
Die basiese punte van die argument, soos uiteengesit deur die fisici Enrico Fermi en Michael H. Hart, is:
- Die Son is ’n tipiese ster en relatief jonk. Daar is miljarde sterre in die Melkweg wat miljarde jare ouer is.
- Van dié sterre sal vir seker Aardagtige planete hê.[2] As ’n mens aanneem die Aarde is ’n tipiese planeet, sou baie van hierdie planete intelligente lewe ontwikkel het.
- Van dié beskawings kan dalk die vermoë ontwikkel om tussen sterre te reis, ’n tegnologie wat die Aarde nou al ondersoek.
- Selfs teen die stadige tempo waarteen die Aarde interstellêre reise voorsien, kan die Melkweg binne ’n paar tienmiljoen jaar heeltemal gekoloniseer wees.
Volgens dié denkrigting moes die Aarde al gekoloniseer, of ten minste besoek, gewees het. Maar geen bewyse hiervoor is nog gevind nie. Daar is ook geen tekens van die bestaan van intelligente lewe in die Melkweg of elders in die heelal (sover dit waargeneem sou kon word) nie.