Faroëes
From Wikipedia, the free encyclopedia
Faroëes (føroyskt [ˈføːɹɪst]) is 'n Noord-Germaanse taal wat hoofsaaklik op die Faroëreilande gepraat word. Dit hoort saam met Yslands tot die Wes-Skandinawiese tale, wat naas die Oos-Skandinawiese tale Noors, Sweeds, Deens en Elfdaals geïdentifiseer kan word. 'n Ouer indeling maak gebruik van die begrip "Wes-Noord-Germaans", waaronder Faroëes, Yslands en Wes-Noorse dialekte soos die uitgestorwe Norn sou ressorteer. Faroëes word deur minstens 69 150 mense op die Deense grondgebied gebesig (veral wydverspreid op die Faroëreiland), maar ook deur Faroërs wat hul in die buitewêreld bevind.
- Hierdie artikel handel oor die taal. Vir die etniese groep, sien Faroërs.
Faroëes Føroyskt | ||
---|---|---|
Uitspraak: | [ˈføːɹɪst] | |
Gepraat in: | Denemarke | |
Gebied: | Wes-Europa | |
Totale sprekers: | 69 150[1] | |
Taalfamilie: | Indo-Europees Germaans Noord-Germaanse Wes-Skandinawies Faroëes | |
Skrifstelsel: | Latynse alfabet | |
Amptelike status | ||
Amptelike taal in: | Faroëreilande | |
Gereguleer deur: | Instituut van Faroëreilande | |
Taalkodes | ||
ISO 639-1: | fo | |
ISO 639-2: | fao | |
ISO 639-3: | fao | |
Nota: Hierdie bladsy kan IFA fonetiese simbole in Unicode bevat. |
Daar is geen sekerheid hoeveel moedertaalsprekers daar in die wêreld is nie. Vroeë skattings wissel tussen 60 000 tot so 100 000, wat natuurlik afhang hoe goed die nakomelinge van die moedertaalsprekers dit buitekant die Faroëreilande kan beheers. Die oorgrote meerderheid Faroëessprekendes wat nie op die Faroëreilande woon nie bevind hul in Denemarke en hier in die besonder in Kopenhagen. In 2007 stel die Noord-Atlantiese Groepe in die Folketing vir die eerste maal vas hoeveel Faroërs van die eerste geslag daar is, d.w.s. mense wie se geboorteplek die Faroëreilande is en wie tans in Denemarke woon. 7 737 persone is opgespoor.[2] Daar is egter sedert 2008 'n konstante toename in hierdie taalgroep in Denemarke aangeteken. Volgens Danmarks Statistik bly daar aan die einde van 2013 altesaam 11 696 mense in Denemarke wie se heimat die Faroëreilande is: 4 877 mans en 6 819 vroue.[3] Daar word dus veronderstel dat hierdie groep (die eerste geslag) se moedertaal Faroëes moet wees. Verder kan daar ook nog nakomelinge van die tweede en derde geslag in Denemarke gebore word. Onlangse skattings gaan sover om die totale aantal Faroërs in Denemarke op 30 000 te beraam, waarvan die helfte, dus 15 000 persone, in Kopenhagen en omgewing woonagtig moes wees.[4] Daar bly egter geen sekerheid hoeveel van hierdie mense Faroëes nog praat nie.
Faroëes behoort daarom tot die kleiner Germaanse tale van die Indo-Europese tale.
Daar word verhoudingsgewys baie boeke in Faroëes gedruk. Vanaf 1822 tot 2002 verskyn daar 4 306 titels. Die jaar 2000 lewer 'n rekord tot op hede: 170 titels (waaronder 66 vertalings uit ander tale) word uitgegee – een splinternuwe boektitel vir omtrent 325 inwoners.
Omdat Faroëes ampstaalstatus geniet en verder onderskraag word deur sy ryk letterkunde, word hy tans nie meer bedreig deur die dominansie van Deens soos dit wel nog die geval was tot in die 20ste eeu nie.