FIFA Sokker-Wêreldbekertoernooi in 1950
From Wikipedia, the free encyclopedia
Die vierde FIFA Sokker-Wêreldbekertoernooi (Portugees: IV Campeonato Mundial de Futebol – Brasil, [ˈkwaʁtu kɐ̃pjoˈnatu mũdʒiˈaw dʒi ˌfutʃiˈbɔw]; Engels: FIFA World Cup) is vanaf 24 Junie tot 16 Julie 1950 in Brasilië aangebied. Dit was die eerste Sokker-Wêreldbekertoernooi wat in Brasilië aangebied is en die tweede in Suid-Amerika. Dit was die eerste Sokker-Wêreldbekertoernooi ná die einde van die Tweede Wêreldoorlog vyf jaar vroeër, nadat die toernooie van 1942 en 1946 weens die wêreldwye oorlog gekanselleer is. Die vorige FIFA Sokker-Wêreldbekertoernooi in 1938 is twaalf jaar vroeër in Frankryk beslis.
IV Campeonato Mundial de Futebol – Brasil | |
---|---|
Toernooi-inligting | |
Gasheerland | Brasilië |
Datums | 24 Junie – 16 Julie |
Spanne | 16 (van 3 konfederasies) |
Stadions | 6 (in 6 stede) |
Finale uitslag | |
Kampioene | Uruguay (2 titels) |
Tweede plek | Brasilië |
Derde plek | Swede |
Vierde plek | Spanje |
Toernooi-statistieke | |
Wedstryde gespeel | 22 |
Doele | 88 (4 per wedstryd) |
Bywoning | 1 043 500 (47 432 per wedstryd) |
Meeste punte | Ademir (8 doele)[1] |
Beste speler | Zizinho |
← 1938 1954 → |
16 nasionale sokkerspanne het aan die FIFA Sokker-Wêreldbekertoernooi in 1950 deelgeneem. Die spanne is in vier groepe verdeel, waarvan die beste span van elke groep na die finale rondte deurgedring het. Brasilië, Spanje, Swede en Uruguay het hul onderskeidelike groepe gewen en na die finale groep deurgedring. Dit was die enigste toernooi wat nie deur ’n enkele eindwedstryd beslis is nie en die beste span van die finale groepfase het die Jules Rimet-trofee verower. Uruguay het die trofee gewen nadat hulle Brasilië met 2–1 in die laaste wedstryd geklop en sodoende hul tweede wêreldbekertitel ingepalm het. Swede het in die derde en Spanje in die vierde plek geëindig.
Die Suid-Afrikaanse nasionale sokkerspan het nie aan die toernooi deelgeneem nie omdat hulle nie ’n lid van FIFA was nie. Beide Duitsland en Japan is nie toegelaat om aan die kwalifisering deel te neem nie. Verskeie ander lande soos Hongarye, die Sowjetunie en Tsjeggo-Slowakye wou nie aan die kwalifisering deelneem nie, terwyl België en Oostenryk in Europa; Burma, Filippyne en Indonesië in Asië; Argentinië, Ecuador en Peru in Suid-Amerika hulleself aan die kwalifisering onttrek het. Indië, Skotland en Turkye het ná hul suksesvolle kwalifisering aan die toernooi onttrek. Die nasionale sokkerspan van Engeland het vir die eerste keer aan ’n Sokker-Wêreldbekertoernooi deelgeneem, nadat die vier Britse nasionale sokkerbeheerliggame vier jaar vroeër by FIFA heraangesluit het.