Die Mevlevi-orde of Mawlawiyya (Turks: Mevlevilik; Persies: طریقت مولویه) is 'n Soefistiese orde wat in Konya (nou in Turkye; voorheen die hoofstad van die Seldjoekse Sultanaat) ontstaan het en wat gestig is deur die volgelinge van Jalaluddin Muhammad Balkhi Rumi, 'n 13de-eeuse Persiese digter, mistikus en Islamitiese teoloog.[1]

Thumb
Die Mevlanamuseum in Konya.

Die Mevlevi's is ook bekend as die draaiende derwisje vanweë hul bekende praktyk om in die rondte te draai tydens dhikr (gedagtenis aan God). "Derwisj" is 'n algemene naam vir 'n ingewyde in die Soefi-weg; draaiende danse is deel van die formele sema-seremonie.[2]

In 2005 het Unesco bevestig die "Mevlevi-seremonie" tel onder die "meesterstukke van die orale en ontasbare erfenis van die mensdom".[3]

Beginsels en praktyke

Thumb
Rumi, deur Hossein Behzad.

Die Mevlevi-orde is sowat 750 jaar oud en is 'n lewende tradisie wat geskoei is op die leringe van Rumi, ook bekend as Mevlevi of Mevlana, waarskynlik een van die mees gevierde Islamitiese digters. Hy word ook in Islam as 'n mistikus vereer. Rumi se vriend en mentor, Shams van Tabriz, word ook in die orde en in die Soefisme en wyer vereer.[4]

Rumi het gesê: "Solank ek lewe, is ek 'n slaaf van die Koran. Ek is stof by die deur van Mohammed die Verkose Een";[5] die Mevlevi-weg is stewig gebaseer op Islamitiese beginsels. Kabir Helminski, 'n Mevlevi-sjeg, skryf: "Dit is 'n strawwe weg van inwyding en diens wat voortdurend aanpas by veranderende omstandighede en tye."[6]

Thumb
Draaiende derwisje in 2007.

Die Mevlevi's glo liefde is sentraal tot die Islam. Die Mevlevi-sjeg Şefik Can skryf: "Rumi vertel vir ons om die liefde van god na die voorgrond te neem, om ons te weerhou van 'n vasklou aan die letter van die wet eerder as aan die gees daarvan, om die essensie van die geloof te vind en om ons geloof van die vlak van imitasie na die vlak van realisasie te neem."[7]

Benewens verpligte Islamitiese aanbidding, is sommige van die spirituele praktyke van die Mevlevi-orde as volg:

  • Bestudering van die Koran en Rumi se werk, veral sy poëtiese meesterstuk die Mathnavi;
  • Muraqabah (eenwording met God);
  • Inwydingsgesprek gelei deur die sjeg (bekend as sohbet);
  • Sema, die draaiende seremonie;
  • Dhikr, aanroeping van die Goddelike Name wat geglo word die hart reinig; en
  • Adab, die ontwikkeling van hoflikheid en bewustheid.[8]

Sema

Thumb
Mevlevi-derwisjdansers, 1887.

Die belangrikste Sema vir die Mevlevi-orde is die jaarlikse viering van Mevlana se eenwording met God (die dood), wat ook Seb-i Arus ("Bruilofsnag" of "Nag van Eenwording") genoem word.[9] Dit duur 'n week lank, met die finale aand op die herdenking van sy dood. Pelgrims reis van oor die wêreld na Konya vir die amptelike viering.

Volgens 'n gewilde storie het Rumi die draaidans geïnspireer nadat hy die hamering van die ystersmede in Konya se basaar gehoor het.[4] Die Mevlevi-historikus Abdülbâki Gölpınarlı glo egter Rumi moes by Shams van Tabriz leer draai het.[2] Şefik Can beweer die draaiing is so vroeg as Abu Sa’id Abu’l-Khayr (sterfdatum: 1049) al onder Soefi's beoefen.[7]

Hoewel hulle dit tot die hoogste vlak ontwikkel het, is Mevlevi's nie die enigste Soefi's wat die draaiing toepas nie. Kabir Helminski stel voor dit het 'n oeroorsprong: "Die parktyk van draaiing het dalk sy oorsprong in die tydlose skadu's van Sentraal-Asiatiese spiritualiteit waar sjamaans dit gebruik het om 'n veranderde vlak van bewustheid voort te bring."[8]

Metode en simbolisme

Sema (of sama) word tradisioneel beoefen in die semahane ("rituele saal") volgens 'n presies voorgeskrewe simboliese ritueel, met die semazens wat in 'n sirkel om hulle sjeg draai. 'n Semazen gebruik sy regtervoet om hom antikloksgewys aan te dryf, terwyl sy linkervoet op die grond geanker bly en dien as 'n spil waarom hy draai. Albei arms word bo die kop gelig. Die regterpalm wys na bo (vemoedelik om die goddelike seën te ontvang) en die linkerpalm af (vermoedelik om dié seën aan die wêreld te kanaliseer). Met elke draai van 360° sing die semazen by homself "Allah" – 'n vorm van dhikr.[2]

Die semazens kom die vertrek binne terwyl hulle 'n swart mantel (hırka) dra wat die dood en die graf simboliseer. Hulle trek dit uit voordat hulle draai. Hulle dra ook 'n hoë bruin hoed bekend as 'n sikke, wat die grafsteen en die dood van die ego simboliseer. Wanneer hulle die swart mantel uittrek, raak hulle wit klede (tennûre) en wit baadjies (destegül) sigbaar. Albei is simbole van herlewing.[2]

Geskiedenis

Thumb
Rumi se mausoleum in die Mevlanamuseum.

Vroeë uitbreiding

Die orde is ná Rumi se dood in 1273 gestig deur sy seun, sultan Veled, en Husameddin Chelebi (wat Rumi geïnspireer het om die Mathnavi te skryf).[4] Nes sy vader, word sultan Veled vir sy digkuns geëer. Lirieke wat hy geskryf het, word dikwels tydens die sema gesing,[10] en beide hy en Husameddin Chelebi word in die orde geëer as Soefi-mistici uit eie reg.

Hulle het Rumi se mausoleum in Konya laat bou wat tot vandag deur pelgrims besoek word (Moslems én nie-Moslems). 'n Paar van Rumi se opvolgers, insluitende sultan Veled en Husameddin Chelebi, is ook daar begrawe. Hulle werk met die orde word voortgesit deur sultan Veled se seun, Ulu Arif Chelebi.[2]

Tydens die Ottomaanse tydperk het die Mevlevi-orde versprei na die Balkan, Sirië, Libanon, Egipte en Palestina, veral Jerusalem. Eindelik was daar tot 114 Soefi-losies. Die orde het goed gevestig geraak in die Ottomaanse Ryk toe Devlet Hatun, 'n afstammeling van sultan Veled, met Bajezid I getroud is. Hulle seun, Mehmet Çelebi, het die volgende sultan geword en het baie voorregte aan die orde verleen, nes sy opvolgers. Lede van die orde het verskeie amptelike poste in die ryk beklee.

Thumb
'n Model van 'n derwisj wat studeer.

Die Çelebi's

Tot vandag word die verantwoordelikheid om toesig oor die Mevlevi-orde te hou deur die generasies aan Rumi se manlike afstammelinge oorgedra. Die hoof van die orde word Çelebi (of Chelebi) genoem, wat beteken "man van God" of "edele", volgens die Mevlevihistorikus Abdülbâki Gölpınarlı.[2] Die huidige Çelebi is Faruk Hemdem Çelebi. Hy is ook president van die Internasionale Mevlanastigting Uluslararası Mevlâna Vakfı, 'n Turkse kulturele en opvoedingstigting wat deur sy suster en die visepresident, Esin Çelebi Bayru, bestuur word. Sjegs, wat die gesag het om Mevlevi-praktyke en -filosofie te leer, word deur die Çelebi aangestel.

Die Mevlevi-regiment

Gedurende die Eerste Wêreldoorlog het die Mevlevi-regiment in Sirie en Palestina diens gedoen onder aanvoering van die 4de Leër. 'n Bataljon van sowat 800 derwisje (die Mucahidin-i Mevleviyye) is in Desember 1914 in Konya gestig en na Damaskus gestuur. Nog 'n bataljon van gewone rekrute is einde Augustus 1916 bygevoeg, en saam het hulle die Mevlevi-regiment gevorm. Die eenheid is in September 1918 ontbind.[11]

Mustafa Kemal het in 1923 met lede van die Mevlevi-orde samesprekings gevoer voordat hulle aktiwiteite onwettig verklaar is.[12]

Verbod van 1925 op Soefisme in Turkye

Atatürk het Soefisme in September 1925 in die nuwe Turkse Republiek verbied. Daarna het die Derwisjlosie in Konya eindelik die Mevlanamuseum geword. Hoewel die Soefistiese losies gesluit het, het die Mevlevi-praktyke in Turkye voortgeduur, maar in 'n beperkte en privaat vorm.

Soefisme is amptelik steeds in Turkye verbode, en sema-seremonies word dus amptelik aangebied as kulturele geleenthede van historie belang, eerder as aanbidding.

Verwysings

Skakels

Wikiwand in your browser!

Seamless Wikipedia browsing. On steroids.

Every time you click a link to Wikipedia, Wiktionary or Wikiquote in your browser's search results, it will show the modern Wikiwand interface.

Wikiwand extension is a five stars, simple, with minimum permission required to keep your browsing private, safe and transparent.