From Wikipedia, the free encyclopedia
’n Donker sterrestelsel is ’n hipotetiese sterrestelsel wat uit donkermaterie bestaan.[1] Die naam kom van die feit dat hulle geen waarneembare sterre het nie en teoreties onsigbaar is. Daar is eksperimentele bewyse[2] wat die bestaan van donker sterrestelsels steun, hoewel sterrekundiges geen beslissende bewyse daarvoor het nie.
Sterrekundiges het die eerste keer vermoed daar bestaan donker, onsigbare sterrestelsels toe hulle die stelsel Messier 99 (NGC 4254) bestudeer het. Hierdie ongewone stelsel lyk of dit een van twee komponente van ’n kosmiese botsing is: die gas syfer weg in ’n konstante stroom en een van die arms is uitgestrek. Die ander komponent is egter nêrens te sien nie. Die navorsers het bereken dat ’n voorwerp met ’n massa van 1011 sonmassas binne die afgelope 100 miljoen jaar naby Messier 99 verbybeweeg het en dat dit die gasstroom veroorsaak en een van die arms beïnvloed.
In 2000 het sterrekundiges die gaswolk VIRGOHI21 ontdek en probeer uitwerk wat dit was en hoekom dit so ’n swaartekraguitwerking op Messier 99 het. Ná jare sonder enige verduidelikings het sommige afgelei dat VIRGOHI21 ’n donker sterrestelsel is.[1]
Die grootte van donker sterrestelsels is onbekend omdat hulle nie gesien kan word nie. Verskeie ramings is al gedoen. Twee moontlike groottes is dubbel dié van die Melkweg[3] of dié van ’n klein kwasar. Hulle bestaan teoreties uit waterstof en ruimtestof.[1] Sommige wetenskaplikes ondersteun die idee dat hulle sterre kan bevat.[4]
HE0450-2958 is ’n ongewone kwasar (’n steragtige voorwerp wat radiogolwe en ander vorms van energie kan uitstraal). Dié een veral het talle groot rooiverskuiwings.[5] HE0450-2958 het geen sigbare sterrestelsel waartoe hy behoort nie. Daar is voorgestel dat dit ’n donker stelsel is waarbinne ’n kwasar aktief geraak het. Daaropvolgende studies het egter onthul dat ’n normale sterrestelsel waarskynlik teenwoordig is.[6]
HVC 127-41-330 is ’n wolk wat vinnig beweeg tussen die Andromeda- en die Triangulum-sterrestelsel. Die sterrekundige Josh Simon glo dit is ’n donker sterrestelsel vanweë die spoed van sy rotasie en sy voorspelde massa.[7]
Die ontdekking van VIRGOHI21 is in Februarie 2005 aangekondig en dit is die eerste goeie kandidaat om ’n ware donker sterrestelsel te wees.[8][4][9][10] Sommige navorsers het intussen die teorie verwerp en glo dit is eerder die "getystert"[11] van die nabygeleë Messier 99, wat swaartekragversteurings ondervind terwyl dit in die Virgo-sterreswerm inbeweeg.
Seamless Wikipedia browsing. On steroids.
Every time you click a link to Wikipedia, Wiktionary or Wikiquote in your browser's search results, it will show the modern Wikiwand interface.
Wikiwand extension is a five stars, simple, with minimum permission required to keep your browsing private, safe and transparent.