Zoeloekoning From Wikipedia, the free encyclopedia
Dingane kaSenzangakhona (ca. 1795–1840) of Dingaan was 'n Zoeloekoning wat veral bekend is vir etlike konflikte met die Voortrekkers, insluitend die moord op Piet Retief en die Slag van Bloedrivier.
Dingaan (soms Dingane gespel) was 'n seun van die stamhoof Senzangakhona, koning van die Zoeloes. Hy was tweede in lyn om sy vader op te volg as koning, naas sy halfbroer Shaka. Shaka het egter besef dat sy vader nooit sou instem tot hom as troonopvolger nie (hy was 'n buite-egtelike kind), en sluit toe eerder by die weermag aan. Sy vader was bly oor hierdie besluit en benoem Dingaan tot troonopvolger. Shaka het egter ontluik as 'n skitterende krygsheer en hy het daarin geslaag om groot dele van die naburige lande en stamme te win vir die Zoeloekoninkryk. Na Senzangakhona se dood neem Shaka met geweld die troon oor. Shaka se brutaliteit na sy ma, Nandi, se dood, lei egter daartoe dat Shaka vermoor word deur sy halfbroers Dingaan en Mhlangane, asook Shaka se adviseur Mbopa. Na Shaka se dood, neem Dingaan die troon oor. Dingaan het egter nie oor Shaka se militêre- en leierskapvaardighede beskik nie, en verskeie stamhoofde het weggebreek.
Probleme in die koninkryk is vererger deur die Voortrekkers wat in die omgewing inbeweeg het, benewens die toenemende Europese invloed uit Port Natal (tans Durban). Gedurende November en Desember 1837 het die trekkerwaens teen die styl Drakensberghellings afgekom om uiteindelik naby die huidige Estcourt tussen die Boesmans- en Bloukransriviere uit te span. In November 1837 het die eerste ontmoeting tussen Dingaan en Piet Retief plaasgevind, wat begerig was om sy mense permanent aan die suidgrens van Zoeloeland te vestig. In 'n opvolgbesoek is 'n verdrag in Engels onderteken wat hierdie grondgebied aan die Voortrekkers toegeken het. Dingaan het sy ware gesindheid jeens die indringers verdoesel, en hul vertonings van ruiter- en krygkuns was geensins gerusstellend nie.
Na twee dae se feesvieringe, op 6 Februarie 1838, het Dingaan Retief se hele diplomatieke geselskap vermoor en sy magte uitgestuur om ook die orige Voortrekkers aan te val. Tien dae na die Retiefmoord is omtrent 500 mans, vroue en kinders in die omgewing van die teenswoordige Weenen uitgewis, en die Zoeloes het baie vee gebuit. Twee maande later het die Voortrekkers se eerste aanslag op Dingaanstat op die rampspoedige Slag van Italeni uitgeloop, en in Augustus het Dingaan se magte teruggekeer om die Voortrekkers te Veglaer aan die Boesmansrivier aan te val. Hier is die Zoeloes na drie dae afgeweer, maar weereens is baie vee aan hulle afgestaan.[3]
Die aankoms van Andries Pretorius in die Maritzlaer het 'n wending gebring, en 'n nuwe strafkommando kon saamgestel word. Dingaan se verspieders het die opmars van die Wenkommando gade geslaan, en die twee strydmagte het by die Ncome- oftewel Bloedrivier ontmoet. Die Zoeloe-impies onder leiding van Ndlela kaSompisi het die Voortrekkers vroegoggend op die 16de Desember 1838 aangeval, maar kon egter nie die laer binnedring nie. In die Slag van Bloedrivier is ongeveer 3 000 Zoeloes dood en drie Voortrekkers is lig beseer. Dingaan moes sy hoofstad uMgungundlovu ontruim, maar by die Slag van die Opatikloof het die Voortrekkers gevind dat die Zoeloes steeds 'n mag was om mee rekening te hou. Die stoflike oorskot van Retief en sy manskappe is te KwaMatiwane gevind en aldaar in 'n massagraf begrawe.
Dingaan het hom nou in die omgewing van Nongoma gevestig, en het met die Voortrekkers in Pietermaritzburg probeer onderhandel.[4] Dingaan se twee gesante is egter met hul aankoms gearresteer en later na 'n verhoor terreggestel. Uit Nongoma het Dingaan in 1839 die Swazi's na die noorde geteiken, maar sonder die ondersteuning van sy halfbroer Mpande, was hy nie teen hulle opgewasse nie. As toenaderingsgebaar het Dingaan aan Mpande 'n geskenk van 100 verse gestuur, maar Mpande het sy sowat vyftienduisend volgelinge in 'n nuwe stat, Mahambehlala, naby die huidige Tongaat hervestig, en geen hulp gelewer nie.[4]
In Januarie 1840 het die Voortrekkers met Mpande saamgespan om Dingaan uit sy Nongoma-vesting te verdryf. Voor Andries Pretorius met 400 manskappe egter kon arriveer het Mpande se leër onder leiding van Nongalaza reeds met dié van Dingaan onder leiding van Ndlela slaags geraak. By die Maqongqo-heuwels, knap suid van die Mkuzerivier, kon Ndlela nie sy impis beheer nie. Sommige het gevlug en ander het na Mpande oorgeloop. Vir hierdie neerlaag het Dingaan Ndlela se oë laat uitsteek.[4] Dingaan was nou genoop om hom met sy laaste getroue volgelinge, die iziToyatoyi-regiment, in die Lebombostreek naby sy Swazi-vyande te vestig. In die Kwaliweni-segment van die Hlatikhulu-bos is Esankoleni, 'n betreklik beskeie ikhanda of militêre hoofstad gebou. Van hier kon naderende vyande goed bespied word, en die bos kon ook skuiling bied.[4]
Die Nyawo-stam was nie met hierdie intrusie in hul omgewing tevrede nie. Sambane, Silevana en Zulu Nyawo het saamgesweer om Dingaan te vermoor en is bygestaan deur Nyawo-begeleiders en 'n Swazigroep onder Nondawana. Voor dagbreek in Februarie of Maart 1840 is Dingaan aangeval. Hy is swaar gewond agtergelaat en het uit die isigodlo met 'n voetpaadjie langs gestrompel. 'n Paar getroue volgelinge het hom daar gevind maar kon nie sy lewe red nie. Dingaan se drie sluipmoordenaars het later rotse op Dingaan se graf, naby 'n groot vyeboom geleë, geplaas. Mpande het Dingane se volgelinge geleidelik weer terug in die kudde aanvaar, en het tot sy dood in 1872 regeer.[4]
Seamless Wikipedia browsing. On steroids.
Every time you click a link to Wikipedia, Wiktionary or Wikiquote in your browser's search results, it will show the modern Wikiwand interface.
Wikiwand extension is a five stars, simple, with minimum permission required to keep your browsing private, safe and transparent.