Geslagsdimorfie is die verskynsel in die natuur dat onderskeid tussen verskillende geslagte maklik op uiterlike voorkoms getref kan word. Dit kan wees op grond van vorm, grootte, kleur en/of gedrag.
Kleur
Dekoratiewe dimorfie is een van die algemeenste soorte en kom veral voor by voëls en reptiele.[1][2] Dit word hoofsaaklik gebruik vir mededinging om ’n maat se aandag.[3]
Die pou is ’n bekende voorbeeld waar mannetjies en wyfies drasties verskil. Die mannetjie gebruik sy helderkleurige vlerke om die wyfie se aandag te trek. Die wyfies self het ’n vaal, bruin kleur. Die dramatiese vlerke van die mannetjie kan egter ook ’n las wees; dit maak hom opvallend vir vyande en kwesbaar omdat dit keer dat hy vinnig kan vlieg. Ook by fisante kan duidelik tussen mannetjies en wyfies onderskei word vanweë hul kleur.
Spesies met groter wyfies as mannetjies
In baie spesies van insekte, spinnekopppe en roofvoëls en sommige soogdiere soos die gevlekte hiëna en blouwalvis, is die wyfies baie groter as die mannetjies. (Daar is ook gevalle waar mannetjies groter as wyfies is.[4])
Sommige spesies van die seeduiwel toon ook groot dimorfie. Die wyfies is van middelmatige grootte, terwyl die mannetjies baie klein en onderontwikkel is. Die mannetjie vind ’n wyfie en klou dan soos ’n parasiet aan haar vas; hy is nie veel meer as ’n spermvervaardigende liggaam nie.
Ook by plante kom dit voor dat vroulike plante heelwat groter as manlike plante is, soos die mossoort Dicranum[5] en die lewermos Sphaerocarpos.[6]
By voëls
Geslagsdimorfie by voëls kan wissel van groot uiterlike verskille tot geen duidelike uiterlike verskille nie.
Volstruise vertoon groot kleurverskille tussen die verskillende geslagte - die mannetjies swart en die wyfies vaalbruin. Die patroon is normaalweg dat die mannetjie helderder kleure as die wyfies het. Soms keer die patroon om, soos byvoorbeeld by die Kopereend waar die mannetjie valer en minder aantreklik is en die wyfie die helder wit kop vertoon.
By roofvoëls is dit weer algemeen dat die wyfies heelwat groter en swaarder as die mannetjies kan wees. Op grond van liggaamsgrootte en massa kan die verskillende geslagte van mekaar onderskei word.
Kleiner voëls vertoon meestal weinig uiterlike eienskappe waarmee die verskillende geslagte van mekaar onderskei kan word. Daar is sulke klein verskille tussen die mannetjies en wyfies van byvoorbeeld koesters, lewerike, dat 'n mens nie sommer die geslag van die voël op uiterlike kenmerke kan bepaal nie.
By visse
Dieselfde kleurverskille kom ook by baie visse voor. Manlike guppies is byvoorbeeld ook kleurryk en die wyfies meestal grys. Wyfies verkies helderkleurige bo valer mannetjies.
By sommige visse is daar ook ’n groot verskil in die grootte van die twee geslagte. ’n Voorbeeld is Lamprologus callipterus, waar die mannetjies tot 60 keer so groot soos die wyfies kan wees. Daar word geglo die mannetjies is so groot omdat hulle die leë skulpe versamel en verdedig waarin die wyfies broei.[7] Die wyfies is klein sodat hulle in die skulpe kan pas.
In visse waar een dominante mannetjie met ’n klomp wyfies paar, speel grootte ook ’n belangrike rol.[8] Wanneer daar ’n gebrek aan ’n dominante mannetjie in die sosiale hiërargie is, kan ’n wyfie in ’n mannetjie verander. Dit is onseker of wyfies skielik groter word wanneer hulle van geslag verander en of wyfies wat groter is, eerder van geslag sal verander as ’n klein wyfie.[9]
By plante
Die meeste plante is hermafrodities, maar sowat 6% het manlike en vroulike weergawes.[10] By plante waar saad deur besoekers soos voëls oorgedra word, lyk hulle gewoonlik dieselfde sodat albei besoekers kan lok. Die orgidee Catasetum is ’n uitsondering. Manlike blomme dra hul stuifmeel met geweld oor aan die besoekende bye. Dié bye sal dan ander manlike orgideë vermy en eerder die vroulike blomme besoek, wat anders as die manlike weergawes lyk. So word kruisbestuiwing bevorder.[11]
Sommige plante soos sekere malvaspesies ondergaan ’n reeksdimorfie. Hulle kan hul helmknoppe ná ’n dag of twee afwerp wanneer daar nie meer stuifmeel aan is nie en van kleur verander terwyl die stamper ontwikkel. Diere wat stuifmeel oordra, is daarop ingesteld om te let op die presiese voorkoms en kleur van die blomme wat hulle besoek. Dit bespaar hulle energie en moeite, terwyl die blom ook daarby baat vind. Blomme kan ook wanneer hulle bestuif is, van kleur verander om besoekers weg te hou.
Verwysings
Wikiwand in your browser!
Seamless Wikipedia browsing. On steroids.
Every time you click a link to Wikipedia, Wiktionary or Wikiquote in your browser's search results, it will show the modern Wikiwand interface.
Wikiwand extension is a five stars, simple, with minimum permission required to keep your browsing private, safe and transparent.