From Wikipedia, the free encyclopedia
In die regswetenskap verwys digeste of digesta (Latyn, "geordende"), ook pandekte of pandectae (Grieks πανδέκτης, "alles omvattend") na 'n bloemlesing van die geskrifte van die belangrikste Romeinse en Bisantynse regsgeleerdes uit die tydperk van ongeveer 100 v.C. tot 300 n.C., saamgestel in opdrag van die Bisantynse keiser Justinianus I tussen 530 en 533 in Konstantinopel. Volgens die inleiding sou hierdie boek “onsterflikheid gee aan die klassieke regstradisie van Rome” en dit moontlik maak om reg te beoefen ten einde 'n uitkoms te bereik wat redelik en regverdig is, of “ars boni et aequi”..[1]
Digeste | |
---|---|
Skrywer | Tribonianus |
Land | Bisantynse Ryk |
Reeks | Corpus Iuris Civilis |
Onderwerp | Romeinse reg |
Uitgewer | |
Uitgegee | 533 |
Die digeste is gepubliseer as deel van 'n groot kodifikasieprojek waarin die Codex Justinianus eerste opgeneem is. Saam met die Digeste is ook handboeke van die Romeinse reg deur die juris en professor Gaius (die Institutiones) ingesluit. Vanaf die Middeleeue het die versameling bekend geword as die Corpus Iuris Civilis.
Nadat Justinianus die Codex Justinianus, 'n oorsig van alle geldelike keiserlike verordeninge, laat saamstel en publiseer het, het hy in 530 ook opdrag gegee dat 'n oorsig van die sogenaamde juristereg saamgestel word; dit wil sê 'n geordende seleksie uit die Romeinse regsliteratuur, in soverre dit op daardie stadium nog prakties bruikbaar was of van huidige belang was vir regsontwikkeling, regspraak en regsopvoeding.[1]
Die samestellers is opdrag gegee om tekste te kies uit die geskrifte van die bekendste Romeinse en Bisantynse regsgeleerdes, veral die volgelinge van die leerstellings van antieke Romeinse reg. Justinianus was self 'n voorstander van hierdie reg en hy wou dit in ere herstel. Veral juriste wat deur vorige keisers gekies is om deur regters gebruik te word by regsbevindinge en wat aangehaal is in die regters se beslissings, is gekies as samestellers.[1]
Dit moes teksmateriaal wees wat óf nog direk prakties was, óf bruikbaar gemaak kon word vir die regspraktyk van die sesde eeu deur wysigings.[1] Die samestellers het dus uitdruklik die gesag, en selfs die verpligting, gehad, waar hulle dit nodig geag het, om die betrokke ou regstekste te wysig.[1] Die idee was dat verlede en hede op hierdie manier in 'n sintese sou saamsmelt wat nuttig sou wees vir die regspraktyk. In die ou tekste moes oortollige of verouderde sake en onvolmaakthede weggewerk word.[1]
Uiteindelik sou fragmente van 39 Romeinse juriste tot reg kom in die digeste, waarvan die oudste Quintus Mucius Scaevola was, en die jongste Aurelius Arcadius Charisius (3de eeu n.C.). Belangrike klassieke regsgeleerdes wat aangehaal word, is Domitius Ulpianus, Publius Salvius Iulianus, Masurius Sabinus, Modestinus en Papinianus. Die geselekteerde geskrifte bevat hoofsaaklik kasuïstiese materiaal, en die digeste bevat ook enkele ander bronne (edikte). Die Digeste het op 30 Desember 533 van krag geword.[2]
Die oudste bewaarde geskrif van die Digeste is die sogenaamde Littera Florentina, 'n 6de eeuse manuskrip wat bewaar word in Florence in die Biblioteca Medicea Laurenziana.[3] Dit is die enigste getroue weergawe van die (verwerkte) oorspronklike teks. In die late 11de eeu duik die codex ook op in Pisa en in 1406 word dit buitgemaak deur Florence. Toegang tot die waardevolle dokument is vir eeue beperk. Lelio Torelli bring die werk in 1553 in druk, waarop vele teksuitgawes volg.[4] Die Duitse historikus Theodor Mommsen publiseer in 1870 'n wetenskaplike uitgawe van die Digeste wat vandag nog gebruik word.
Sedert 1994 het daar vir die eerste keer[1] 'n Nederlandse vertaling verskyn van die Corpus Iuris Civilis. Die twaalfdelige reeks is in November 2011 voltooi. Hierdie uitgawe gee die oorspronklike Latynse teks weer naas die Nederlandse vertaling. Die uitgawe geskied onder verantwoordelikheid van die Koninklijke Nederlandse Akademie van Wetenschappen en word gepubliseer deur die Drukpers van die Universiteit van Amsterdam.
Seamless Wikipedia browsing. On steroids.
Every time you click a link to Wikipedia, Wiktionary or Wikiquote in your browser's search results, it will show the modern Wikiwand interface.
Wikiwand extension is a five stars, simple, with minimum permission required to keep your browsing private, safe and transparent.