Düsseldorf
From Wikipedia, the free encyclopedia
Düsseldorf (Duits: [ˈdʏsl̩dɔɐ̯f], luister (hulp·inligting); Nederduits: Düsseldörp, [ˈdʏsl̩dœɐ̯p]) is die administratiewe hoofstad van die Duitse deelstaat Noordryn-Wesfale met 'n bevolking van 620 523 (soos op 31 Desember 2020). Die stad lê suid van die Ruhrgebied, in 'n gebied waar die vlakte van die Nederryn geleidelik in die bergstreek van die Bergisches Land oorgaan.
Kaart | Wapen |
Vlag | |
Land | Duitsland |
Deelstaat | Noordryn-Wesfale |
Koördinate | 51°14′N 6°47′O |
Stigting | 1135 |
Stadstatus | 14 Augustus 1288 |
Oppervlakte: | |
- Totaal | 217,41 vk km |
Hoogte bo seevlak | 38 m |
Bevolking: | |
- Totaal (31 Desember 2020) | 620 523[1] |
- Bevolkingsdigtheid | 2 854/vk km |
Tydsone | UTC +1 (MET) |
- Somertyd | UTC +2 (MEST) |
Burgemeester | Stephan Keller (CDU) |
Amptelike webwerf | duesseldorf.de |
Die metropool aan die Ryn is met sy ekonomiese, kulturele en kunslewe asook sy argitektuur 'n stad van internasionale betekenis. Naas die regering van die deelstaat Noordryn-Wesfale is 'n groot aantal owerhede en ander instellings in Düsseldorf gesetel. Die skouterrein en die Ryns-Wesfaalse Effektebeurs maak van Düsseldorf 'n rolspeler in die internasionale ekonomiese lewe.
As een van die welvarendste stede in Europa is Düsseldorf naas Dresden die enigste beduidende metropool in Duitsland wat geen skuldlas het nie. Sedert die nywerheidsomwenteling het nywerhede, handelsmaatskappye en banke van wêreldfaam hulle hoofkwartiere in Düsseldorf. 'n Groot aantal advertensie-agentskappe en modehuise maak van die stad 'n beduidende sentrum van kreatiewe ondernemings.
Die internasionale lughawe van Düsseldorf is die grootste in die metropolitaanse gebied van Ryn-Ruhr met tien miljoen inwoners en het 'n belangrike rol by die vinnige groei van die plaaslike toerismesektor gespeel. Düsseldorf huisves saam met Londen die grootste gemeenskap van Japannese en ander Oos-Asiatiese burgers asook talle hoofkwartiere van multinasionale Japannese ondernemings en kulturele instellings vir Japannese en ander Asiate.
Met die omvattende kunsversameling van die deelstaat Noordryn-Wesfale, 'n groot aantal musea en kunsgalerye asook die befaamde Kunsakademie Düsseldorf het die stad tot 'n internasionale kunsmetropool ontwikkel. Bekende teaters soos die Schauspielhaus en die Kom(m)ödchen en talle gewilde Duitse musici en skrywers bevestig Düsseldorf se reputasie as 'n eersterangse sentrum van uitvoerende kunste. Internasionaal befaamde argitekte soos Frank Gehry het in die Düsseldorfse Medienhafen en ander stadsbuurte opspraakwekkende bouwerke geskep.