Columbiaanse uitwisseling
From Wikipedia, the free encyclopedia
Die Columbiaanse uitwisseling was die wydverspreide uitruiling van plante, diere, kultuur, mense, tegnologie, siektes en idees tussen die Amerikas, die Ou Wêreld en Wes-Afrika in die 15de en 16de eeu. Dit is genoem na Columbus en hou verband met Europa se kolonisasie van en handel met die Amerikas ná sy ontdekkingsreis in 1492.[1] Die veranderings in landbou het bevolkings wêreldwyd beïnvloed. Die grootste onmiddellike uitwerking van die Columbiaanse uitwisseling was die uitruiling van kultuur en mense (beide vry mense en slawe) tussen die kontinente. Indringerplante en oordraagbare siektes was egter ook van die gevolge.
Die nuwe kontak tussen die bevolkings van die wêreld het gelei tot die sirkulering van ’n groot verskeidenheid gewasse en vee, wat groter bevolkings in albei halfronde kon onderhou. Handelaars het teruggekeer na Europa met mielies, aartappels en tamaties, wat teen die 18de eeu belangrike gewasse geword het in Europa, en later in Asië. Nuwe aansteeklike siektes het egter aanvanklik gelei tot ’n afname in die bevolkingstalle van die inheemse volke van die Amerikas.
Die term is in 1972 die eerste keer gebruik deur die Amerikaanse historikus Alfred W. Crosby in sy boek The Columbian Exchange.[2] Dit is vinnig deur ander historici en joernaliste aanvaar en het algemeen bekend geword.