Colin McKenzie Fraser
From Wikipedia, the free encyclopedia
Ds. Colin McKenzie Fraser (volgens talle bronne Mackensie, Beaufort-Wes, 20 Januarie 1837 – Kaapstad, 27 Februarie 1911) was predikant in die Nederduitse Gereformeerde Kerk en het sy hele 44 jaar lange bediening in die NG gemeente Philippolis deurgebring. Hy was vier keer moderator en ook assessor van die Vrystaatse Kerk, die huidige Sinode van die Vrystaat, en het 'n belangrike rol in die kerklike lewe van die destydse Oranje-Vrystaat gespeel.
Colin Fraser McKenzie | |
Ds. C.M. Fraser | |
Naam | Colin Fraser McKenzie |
---|---|
Geboorte | 20 Januarie 1837 Beaufort-Wes |
Sterfte | 27 Februarie 1911 Kaapstad |
Kerkverband | Nederduits Gereformeerd |
Gemeente(s) | Philippolis |
Jare aktief | 18 April 1863 – 5 Julie 1907 |
Kweekskool | Utrecht |
Sendingwerk | In sy plaaslike gemeente |
Hoewel die NG gemeentes van die Vrystaat noord van Bloemfontein destyds meer lidmate gehad het danksy 'n digter bevolking as dié suid van die Vrystaatse hoofstad, sou Philippolis as een van die suidelike gemeentes, onder die bekwame leiding van ds. C.M. Fraser, spoedig een van die toonaangewende gemeentes van die Oranje-Vrystaat word. As leraar het hy sy geestelike werk op Philippolis begin en dit tot sy emeritaat in 1907 voortgesit. Omdat Philippolis die enigste gemeente was waarin hy gearbei het, was daar by hom dus geen sprake van 'n eerste en laaste gemeente nie, maar slegs van die enigste gemeente. Sy 44 bedieningsjare het hom in staat gestel om op 'n besonderse wyse met die sake van die Vrystaatse Sinode bekend te word. Dit is dus geen wonder nie dat hy vyf maal tot moderator gekies is, vier maal tot assessor en dat die leraars van die Oranje-Vrystaat tot hom "als hun vader" opgesien het. In die Sinode het hy sy stempel onuitwisbaar afgedruk. Hy was 'n leraar enig in sy soort en voorwaar 'n sieraad vir die kerk, volgens J.A. Bosch. Hy het 18 beroepe ontvang, waarvan agt uit die Kaapkolonie gerig was, waarvan vier deur die Groote Kerk, maar hy het steeds besef dat hy in die Oranje-Vrystaat 'n taak te verrig gehad het. In die Sinodale sittings het hy deur sy welsprekendheid en logiese beredenering van sake roem verwerf, en dit het daartoe gelei dat hy een van die belangrike boumeesters van die vroeë Vrystaatse Kerk geword het.