Cave canem
From Wikipedia, the free encyclopedia
From Wikipedia, the free encyclopedia
Cave canem is 'n gebiedende Latynse uitdrukking wat letterlik beteken "pasop vir die hond".
Hierdie waarskuwing word onder die puin van die begraafde stad Pompeii tydens argeologiese opgrawing in die sogenaamde "huis van die tragiese digter" herontdek.
Op die mosaïekvloer van die voorhof (vestibule) is die inskripsie in hoofletters gepak, met daarnaas die uitbeelding van 'n kettinghond. Die doel daarvan was nie alleen om besoekers vroegtydig te waarsku nie, maar veral om indringers van die straat se kant in hul spoor te laat trap.
Vir die Romeine was hierdie blykbaar 'n algemene gesig op hul drumpel. Soortgelyke mosaïekwerk met die waghond is dwarsoor Pompeii ontdek, maar nie noodwendig met die inskripsie by nie. Petronius, die Latynse skrywer van die 1ste eeu, verwys ook daarna in hoofstuk 29 van sy roman Satyricon:
Latyn | Afrikaans |
Ceterum ego dum omnia stupeo, paene resupinatus crura mea fregi. Ad sinistram enim intrantibus non longe ab ostiarii cella canis ingens, catena vinctus, in pariete erat pictus superque quadrata littera scriptum CAVE CANEM. | Trouens, ek vergaap my nog so aan alles, toe breek ek amper my bene van die skrik. Hier links van die ingang, nie te ver van die portiershokkie af nie, is 'n reuse kettinghond teen die muur afgeteken. Bo-oor staan in blokletters geskrywe: "Pasop vir die hond". |
Cave canem was in die Middeleeue ook een van die slagspreuke van die seemanne van Saint-Malo, 'n knipoog na die waghonde wat snags losgelaat is om die stad te bewaak. Wanneer die Malouïese skepe tot die stryd gedwonge was, wapper op die strydvlag die einste dogge met strydlus en bytlus; 'n laaste cave canem voor die bloed spat.
Jean-Léon Gérôme maak in 1881 'n skildery met as titel: Cave canem, prisonnier de guerre à Rome (Cave canem, krygsgevangene in Rome)
Die studeerkamer van Alexandre Dumas, bekend as die Château d'If, is 'n klein neogotiese kasteel wat op 'n klein eilandjie opgerig is sommer op die terrein van die Château de Monte-Cristo, geleë in Port-Marly. Nou reg voor hierdie studeerkamer is 'n standbeeld staangemaak van 'n hond in sy hok, met die opskrif: Cave canem.
Volgens die Afrikaanse taalkundige, Louis Eksteen, en die WAT, het die imperatief cave van cave canem ook die Afrikaanse slêngtaal via Engelse uitspraak van Latyn beïnvloed[1][2], betreffende die woorde "kywie hou/staan":
Seamless Wikipedia browsing. On steroids.
Every time you click a link to Wikipedia, Wiktionary or Wikiquote in your browser's search results, it will show the modern Wikiwand interface.
Wikiwand extension is a five stars, simple, with minimum permission required to keep your browsing private, safe and transparent.