Blombosgrot
From Wikipedia, the free encyclopedia
Blombosgrot is ’n argeologiese terrein in die Blombosfontein-natuurreservaat naby Heidelberg, Wes-Kaap, sowat 300 km oos van Kaapstad. Die grot bevat neerslae van tussen omstreeks 100000 en 70000 v.C., uit die middel-Steentydperk, en tussen omstreeks 2000 en 300 v.C., uit die Neolitikum.[1][2][3][4] Opgrawings is in 1991 die eerste in die grot gedoen en sedert 1997 word veldwerk gereeld daar gedoen.[5]
Blombosgrot | ||
Koördinate | 34°24′52″S 21°13′21″O | |
Land | Suid-Afrika | |
Soort | Grot | |
Streek | Wes-Kaap |
Die opgrawings in Blombosgrot het belangrike nuwe inligting onthul oor die gedragsevolusie van die anatomies moderne mens en het bygedra tot die begrip van die ontstaan van vroeë gedragsinnoverings onder Homo sapiens in Suider-Afrika tydens die laat Pleistoseen.[6][7] Argeologiese materiaal en dieroorblyfsels uit die middel-Steentydperk van omstreeks 100000 tot 70000 v.C. illustreer vermoedelik onder meer groter ekologiese nisaanpassing, die gebruik van verskeie stappe in tegnologie en gereedskapvervaardiging, groter ekonomiese en sosiale organisasie en die voorkoms van simboliese gedrag.
Van die materiaal wat gevind is, sluit gegraveerde oker in,[8], asook okerprosesseringsgereedskap,[3] seeskulpkrale,[9][10][11] been- en klipgereedskap[12][13][14] en ’n groot reeks aard- en seedieroorblyfsels, insluitende dié van skulpvis, voëls, skilpaaie, doppe van volstruiseiers en soogdiere van verskeie groottes.[15][16][17] Hierdie vondste, tesame met ’n herontleding van en opgrawings op ander terreine uit die middel-Steentydperk in Suider-Afrika het gelei tot ’n beter begrip van tye en plekke in die ontwikkeling van die gedrag van die moderne mens.
Op 29 Mei 2015 het Erfenis Wes-Kaap die terrein as ’n provinsiale erfenisterrein geklassifiseer.[18]
’n Okertekening op ’n stuk klip wat in die grot ontdek is, is vermoedelik die vroegste bekende tekening in die wêreld deur ’n mens.[19]