Astrologie
From Wikipedia, the free encyclopedia
Astrologie of sterrewiggelary is 'n reeks waarsêerypraktyke wat na bewering inligting oor menslike sake en aardse gebeure voorspel deur die bestudering van die oënskynlike posisies van hemelliggame.[1][2][3][4][5] Dit word sedert die 18de eeu as 'n skynwetenskap beskou.[6] Verskillende kulture het reeds sedert minstens die 2de millennium v.C. vorme van astrologie beoefen; dié praktyke het hulle oorsprong in kalenderstelsels wat gebruik is om seisoenale veranderings aan te dui en om die hemelse siklusse te vertolk as tekens van goddelike kommunikasie.[7]
Die meeste, indien nie alle nie, kulture het betekenis geheg aan wat hulle in die lug gesien het en sommige – soos die Hindoes, Chinese en Maja – het uitgebreide stelsels ontwikkel vir die voorspelling van aardse gebeure uit hemelse waarnemings. Westerse astrologie, een van die oudste astrologiese stelsels wat steeds in gebruik is, kan teruggespeur word na die Mesopotamië van die 19de-17de eeu v.C., van waar dit na antieke Griekeland versprei het en toe na Rome, die Islamitiese wêreld en uiteindelik Sentraal- en Wes-Europa. Kontemporêre Westerse astrologie word dikwels verbind met stelsels van sterrevoorspelling wat na bewering aspekte van iemand se persoonlikheid en belangrike gebeure in hulle lewe voorspel geskoei op die posisie van die hemelliggame. Die meeste professionele astroloë maak staat op sulke stelsels.[8]:83
Deur die grootste deel van sy geskiedenis is astrologie beskou as 'n geleerde tradisie en was dit algemeen in akademiese kringe. Dit is soms nou verbind met astronomie, alchemie, meteorologie en medisyne.[9] Dit was teenwoordig in politieke kringe en is genoem in verskeie letterkundige werke, van Dante Alighieri en Geoffrey Chaucer tot William Shakespeare, Lope de Vega en Calderón de la Barca.
Tydens die Verligting het astrologie egter sy status as 'n gebied van wettige geleerdheid verloor.[10][11] Ná die einde van die 19de eeu en die algemene aanvaarding van die wetenskaplike metode, het navorsers begin om astrologie suksesvol te bevraagteken op beide teoretiese[12][13] en eksperimentele grondslag.[14][15] Daar is bevind dit het geen wetenskaplike geldigheid of verduidelikbare mag nie.[8] Astrologie het toe sy akademiese en teoretiese reputasie in die Westerse wêreld verloor en algemene geloof daarin het grootliks afgeneem, totdat dit sedert die 1960's weer geleidelik toegeneem het.[16]