Asteroïed
klein planeet van die binneste Sonnestelsel; nie 'n komeet nie / From Wikipedia, the free encyclopedia
’n Asteroïed of asteroïde is ’n soort kleinplaneet wat om die Son wentel, veral in die binnenste Sonnestelsel. Toe kleinplanete in die buitenste Sonnestelsel ontdek is, is gevind hul oppervlakke bestaan gewoonlik uit vlugtige elemente of samestellings, nes dié van komete. Dié voorwerpe is dus dikwels onderskei van dié in die asteroïedgordel.[1] In hierdie artikel verwys die term "asteroïed" na die kleinplanete van die binneste Sonnestelsel, insluitende dié wat ’n wentelbaan met Jupiter deel.
Daar is miljoene asteroïede, waarvan baie vermoedelik die oorblyfsels is van planetesimale, liggame in die jong Son se sonnewel wat nooit groot genoeg geword het om planete te vorm nie.[2] Die oorgrote meerderheid van bekende asteroïede kom voor in die hoofasteroïedgordel tussen die wentelbane van Mars en Jupiter, of deel ’n wentelbaan met Jupiter (die Jupiter-trojane). Daar is egter taamlik groot families asteroïede met ander wentelbane, insluitende die nabyaardevoorwerpe. Individuele asteroïede word geklassifiseer volgens hul kenmerkende spektra. Die meeste val in drie hoofgroepe: C-, M- en S-tipe asteroïede. Hulle is genoem na en word gewoonlik verbind met onderskeidelik koolstof, metaal en silikaat (klipagtig). Asteroïede se groottes wissel aansienlik; die grootste een, Ceres, se deursnee is amper 1 000 km.
Asteroïede verskil van komete en meteoroïdes. Die verskil tussen asteroïede en komete is hul samestelling: Komete bestaan hoofsaaklik uit stof en ys en asteroïede uit rots en minerale. Laasgenoemde het nader aan die Son ontstaan en bevat dus nie ys nie.[3] Die verskil tussen asteroïede en meteoroïdes is hul grootte: Meteoroïdes het ’n deursnee van ’n meter of kleiner, terwyl asteroïede se deursnee groter as ’n meter is.[4] Meteoroïdes kan dieselfde samestelling as óf asteroïede óf komete hê.[5]
Net een asteroïed, 4 Vesta, het ’n taamlik weerkaatsende oppervlak. Dit is gewoonlik met die blote oog sigbaar, maar net as dit baie donker is en Vesta se posisie gunstig is. Net soms kan asteroïede wat naby die Aarde verbybeweeg, vir ’n kort rukkie met die blote oog sigbaar wees.[6] In 2017 het die Kleinplaneetsentrum data oor byna 745 000 voorwerpe in die binneste en buitenste Sonnestelsel gehad, met genoeg inligting oor amper 504 000 om ’n nommernaam te kry.[7]
Die Verenigde Nasies het 30 Junie as Internasionale asteroïeddag verklaar om die publiek oor asteroïede op te voed. Dié datum herdenk die Toengoeska-asteroïed-impak op 30 Junie 1908 in Siberië, Rusland.[8][9]
In April 2018 het die B612 Foundation, wat hom onder meer toespits op verdediging teen asteroïede, berig "die kans is 100 persent dat ons deur ’n verwoestende asteroïed getref sal word, maar ons is nie 100 persent seker wanneer nie".[10][11] Ook die fisikus Stephen Hawking het in 2018 in sy laaste boek, Brief Answers to the Big Questions, gemeen ’n asteroïedbotsing is die grootste bedreiging wat ons planeet in die gesig staar.[12][13][14]
In Junie 2018 het die VSA se nasionale wetenskap-en-tegnologieraad gewaarsku dat Amerika onvoorbereid op ’n asteroïedimpak is. Die raad het die "National Near-Earth Object Preparedness Strategy Action Plan Geargiveer 17 Desember 2019 op Wayback Machine" ontwikkel en uitgereik om beter daarop voor te berei.[15][16][17][14][18] Volgens kennersgetuienis in 2013 in die Amerikaanse kongres het Nasa minstens vyf jaar van voorbereiding nodig voordat ’n sending van stapel gestuur kan word om ’n asteroïed te onderskep.[19]