Artemis 1
From Wikipedia, the free encyclopedia
Artemis 1, amptelik Artemis I[5] en voorheen bekend as Exploration Mission-1,[6] was 'n onbemande sending vir 'n omwenteling van die Maan en die eerste ruimtevlug in Nasa se Artemis-program. Dit was ook die eerste vlug van die agentskap se Space Launch System (SLS)-vuurpyl en die hele Orion-ruimtetuig.[7]
Artemis 1 | |
---|---|
Die SLS-vuurpyl lanseer Artemis 1 van die Kennedy-ruimtesentrum. | |
Ander name | Artemis I (amptelik) Exploration Mission-1 (EM-1, voorheen) |
Soort sending | Onbemande maanwentelings- toetsvlug |
Opgestuur deur | Nasa |
Duur van sending | |
Afstand afgelê | 2,1 miljoen km |
Ruimtetuig | Orion CM-002 |
Lanseringsdatum | 16 November 2022[3] |
Lanseringsterrein | Kennedy-ruimtesentrum |
Aankoms | 21 November 2022[4] |
Landingstyd | 11 Desember 2022[2] |
Landingsterrein | Stille Oseaan |
Wenteltydperk | 14 dae |
Volgende sending | Artemis 2 |
Webtuiste | www |
Die Artemis 1-sending behels die toetsing van al die vuurpylfases en ruimtetuie wat in latere Artemis-sendings gebruik sal word. Dié sendings het ten doel om 'n menslike teenwoordigheid op die Maan te hervestig en tegnologie en sakebenaderings te demonstreer wat nodig is vir toekomstige wetenskaplike studies, insluitende die verkenning van Mars.[8]
Nadat dit in 'n baan na die Maan geplaas is, het die sending 10 CubeSat-satelliete lanseer vir 'n verskeidenheid toetse en foto's.[9] Die Orion-tuig het op 21 November verby die Maan gevlieg; daarna in 'n veraf, ses dae lange retrograde wentelbaan gegaan; en op 25 November vir 'n tweede keer 'n verbyvlug uitgevoer.
Die tuig het daarna teruggekeer en met behulp van sy hitteskild weer die Aarde se atmosfeer binnegegaan. Dit het op 11 Desember in die Stille Oseaan neergeplons.[10] Die doel van die sending was om Orion en die SLS te toets vir bemande vlugte, wat met Artemis 2 sal begin.[11] Dié sal 'n bemande verbyvlug van die Maan uitvoer. Daarna sal Artemis 3 'n bemande maanlanding behels vyf dekades ná die laaste bemande maansending, Apollo 17.
Die SLS sou reeds in 2016 gelanseer gewees het, maar weens vertragings is die lanseringsdatum met ses jaar uitgestel. Die eerste lanseringspoging van Artemis 1 was op 29 Augustus 2022, maar is gekanselleer weens probleme. Die tweede poging, op 3 September 2022, is ook opgeskort weens 'n waterstoflekkasie.[12] Artemis 1 is eindelik op 16 Novermber 2022 suksesvol van die Kennedy-ruimtesentrum af gelanseer.